Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
SA kry 8 nuwe herlaaipunte vir elektriese motors

Suid-Afrika het vier nuwe herlaaistasies vir elektriese voertuie (EV) gekry met altesaam agt herlaaipunte wat tussen dié vier stasies verdeel is.

Dié nuwe herlaaistasies op vier verskillende plekke in die land is op Generation.e se Electric Vehicle Road Trip (EVRT) se Afrika-saamtrek aangekondig.

Sewe elektriese voertuie, bestaande uit die BMW i3, Nissan LEAF en Jaguar I-PACE, het op 3 Oktober by die Sun Arena in Pretoria op hul reis na Kaapstad vertrek.

Dit word gedoen ter bewusmaking van die voordele van die gebruik van elektriese voertuie, en om tot die infrastruktuur by te dra.

Ben Pullen, die internasionale maatskappy Generation.e se uitvoerende hoof, sê die vier nuwe herlaaistasies is ’n toevoeging tot die 120 reeds bestaande herlaaipunte in die land, die meeste in Gauteng, waartoe die publiek toegang het.

Hy haal dié syfers aan uit GreenCape se verslag getiteld “Electric Vehicles 2019 Market Intelligence”.

Ben Pullen, uitvoerende hoof van Generation.e, by 'n Jaguar I-PACE in die nuwe herlaai-stasie op Gariepdam in die Vrystaat. Foto: Verskaf

Op die reis kon die publiek meer van elektriese motors leer en selfs die voertuie toetsbestuur.

“Die publiek was natuurlik verstom om dié soort tegnologie in Suid-Afrika te sien,” sê Pullen. Dit is baie goed ontvang.

Die vier nuwe stasies is by Travel Inn by die Shell Ultra City op Kroonstad in die Vrystaat, by die De Stijl Gariep Hotel op Gariepdam, ook in die Vrystaat, by die Wolwefontein Hotel op Wolwefontein in die Oos-Kaap, en The Vineyard in Kaapstad.

Die voertuie het onder meer Bloemfontein, Gariepdam, Graaff-Reinet, Port Elizabeth, Knysna en Worcester aangedoen. Die reis eindig Donderdag in die V&A Waterfront in Kaapstad.

“Hoewel dié tegnologie vir die meeste Suid-Afrikaners nog onbekend is, is dit nie ’n rede om dit te ignoreer nie. As jy na die ooglopende voordele van elektriese voertuie kyk, is dit iets wat ons moet aangryp en waarop gefokus moet word,” sê Pullen.

Sewe elektriese voertuie bestaande uit die BMW i3, Jaguar I-PACE en Nissan LEAF is vir die reis van Pretoria na Kaapstad gebruik. Hier staan drie van die voertuie in die herlaaistasie wat op Gariepdam bekend gestel is.Foto: Verskaf

Een van die voordele van elektriese voertuie is die uitskakeling van lugbesoedeling deur koolstofvrystelling omdat dit nie petrol of diesel gebruik nie, sê hy.

Generation.e bied dié padreis reeds die afgelope vier jaar oor die wêreld heen aan, sê hy. Dit is die eerste keer dat dit in Suid-Afrika gehou word.

ACDC Dynamics is Generation.e se hoofvennoot vir die oprigting van die herlaaistasies. Die projek word onder meer ook deur die departement van vervoer, die Gautengse regering en die African Alliance for Energy Productivity gesteun.

“Suid-Afrika kry geleidelik al meer stasies. Hoewel die land hiermee in ’n goeie posisie is, is nog baie meer infrastruktuur nodig soos wat al meer mense elektriese voertuie koop.”

* Pullen sê luidens die verslag oor die oorgang na elektriese voertuie, “Global EV Outlook 2019: Scaling-up the transition to electric mobilty”, het elektriese passasiersvoertuie wêreldwyd in 2018 die kerf van vyf miljoen verbygesteek. In 2018 was daar ’n styging van 63% in die verkope teenoor die vorige jaar.

In Suid-Afrika het EV-verkope egter tussen 2017 en 2018 gedaal.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.