Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
SA kry lof oor wette teen uitbuiting van kinders

Suid-Afrika is onlangs in ’n navorsingsopname geprys vir sy verbintenis om seksuele geweld teen kinders met omvattende wetgewing vas te vat.

In Shining Light on Child Sex Abuse & Exploitation: A 40-Country Benchmarking Index word gekyk hoe 40 lande oor die wêreld heen reageer op seksuele misbruik en uitbuiting van kinders. Die verslag is deur The Economist Intelligence Unit uitgereik.

Die opname het egter daarop gewys dat Suid-Afrika se ondersteuning aan slagoffers en hulpbronne vir regs- en wetstoepassingsowerhede verbeter kan word.

Foto ter illustrasie. Foto: iStock

Suid-Afrika is geprys vir sy wette wat verhoed dat minderjariges vir seks gekoop word of dat hulle verfilm of met ’n kamera afgeneem word terwyl hulle seks het, asook wetgewing teen mensehandel en seksuele voorbereiding. Vodacom se tolvrylyn wat voorligting vir kinders bied, word ook genoem.

Die World Childhood Foundation, Oak Foundation en die Carlson Family Foundation het gehelp met die navorsing.

Nie net is die omvang van die probleem in elke land gemeet nie, maar daar is ook gekyk hoe belanghebbendes op die bedreiging van seksuele misbruik en uitbuiting van kinders reageer. Dit het seksuele misbruik van kinders gedefinieer as “enigiets waarin ’n kind gebruik word vir die seksuele bevrediging van ’n ander persoon.”

Een van die VN se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte is om teen 2030 geweld teen kinders te beëindig.

In die navorsing is ook bevind dat seuns wat seksueel misbruik word oor die hoof gesien word. “Altesaam 21 lande het geen wettige beskerming vir seuns in hul kinderverkragtingswette nie. Slegs 18 lande versamel data oor die seksuele misbruik van seuns,” lui die verslag.

Die verslag stel voor dat Suid-Afrika sy ondersteuning aan slagoffers van seksuele geweld moet opknap asook sy hulpbronne om oortreders aan die pen te laat ry. Daarbenewens moet gespesialiseerde riglyne daargestel word word vir die vervolging van seksuele misbruik van kinders.

Die verslag wys ook daarop dat Suid-Afrika geen spesiale beskerming vir kinders in sy verkragtingswette bied nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.