Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
SA man 2de in Suidpool-marathon

’n Oud-Bloemfonteiner wat deesdae in die Suid-Kaap woon, het onlangs die tweede plek in ’n marathon in Antarktika behaal.

Mauritz Jansen van Rensburg (48) sê hy het dié prestasie nie verwag nie, maar “vat dit met ’n glimlag”.

Hy het hom eers by ’n groep Amerikaanse atlete in Suid-Amerika aangesluit, waarna hulle van Punta Arenas in Chili na Antarktika gereis het om die Antarktiese Ysmarathon te hardloop.

Mauritz Jansen van Rensburg (48) het Saterdag die tweede plek behaal in die Antarktiese Ysmarathon by die Suidpool.

Omdat die weer onvoorspelbaar is, het hulle ’n venstertydperk van drie dae gehad om die marathon te hardloop.

Kort voordat die wedloop Saterdag om 12:00 begin het, is hulle met ’n Russiese vliegtuig na die Antarktiese sirkel “in die middel van nêrens” geneem en op ’n baie groot ysgletser afgelaai.

Net sekere vliegtuie kan daar land, en mag weens die bibberweer nie hul enjins afskakel nie.

“Daar is geen lewe nie, nie eens ’n muggie nie. Dit was oorverdowend stil.”

Hoewel hy reeds 40 jaar hardloop en die marathon in Antarktika sy 30ste een was, was die rowwe terrein en omstandighede geen grap nie.

“Dit was uiters koud. Die temperatuur was glo -15 °C, maar met die wind is die aanvoelbare temperatuur hier by -25 °C.”

Mauritz Jansen van Rensburg (48) sê weens die moeilike omstandighede is dit ’n groot uitdaging vir ’n atleet om ’n marathon in die Suidpool te voltooi.

Weens die sagte ys word ander spiere as met gewone marathons ooreis, soos kuite, agterbobeenspiere en heupfleksors. Hy sê dit is die eerste keer dat hy lou water kry om sy dors in ’n marathon te les. Die water word gekook om te verhoed dat dit vries.

Hy is vooraf gewaarsku dat hy weens die omstandighede minstens ’n uur by sy gewone marathontyd – van minder as drie uur – moet voeg.

Hy het die Antarktiese Ysmarathon egter in 3 uur 45 minute en 12 sekondes kafgedraf.

William Hafferty, die Amerikaanse wenner, het dit in 3 uur 34 minute en 12 sekondes voltooi.

Jansen van Rensburg rig ’n groep Amerikaanse atlete af, en dit is hoe hy kon inskryf vir die Antarktiese Ysmarathon, wat net 60 atlete toelaat.

Hy sê hy kan nou bevestig dat die son in die somer nooit in Antarktika sak nie. Roy Jorgen Svenningsen (84) van Kanada, die oudste deelnemer tot nog toe, het die afstand gestap en dit omstreeks middernag voltooi. Die son het nog helder geskyn.

Die drawwers het in tente gekamp. Jansen van Rensburg sê hy kan daarvan getuig dat die son in Antarktika nie in die somer sak nie.

Jansen van Rensburg, ’n voormalige Suid-Afrikaanse Driekampatleet wat Suid-Afrika in die 1990’s op drie wêreldkampioenskappe verteenwoordig het, het tien jaar gelede saam met sy vrou, Lanéne, ’n Oos-Vrystater, en kinders van Bloemfontein na George verhuis.

Lanéne is die TV-aanbieder Johrné van Huyssteen se kleinsus.

In dié tyd het Jansen van Rensburg formeel as aanlyn afrigter op sy webwerf, Soul Running, begin werk. Sy hart lê nie net by ernstige atlete nie, maar merendeels by ouer mense wat wil begin hardloop, al is dit net om vir ’n pretdraf voor te berei.

“Partymaal wil ’n mens net verantwoordbaar vir jou roetine gehou word. My hart lê daarin om sulke mense by te staan.”

Hy het aan die Hoërskool Sand du Plessis skoolgegaan en het ’n BCom-bemarkingsgraad van die Universiteit van die Vrystaat.

Hy “ontdooi” nou eers onder die Suid-Afrikaanse son tot die nuwe jaar, wanneer hy weer die Boston-marathon in Amerika gaan aanpak.

Meer oor:  Antarktika  |  Marathon
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.