Die Suid-Afrikaanse Munt het Maandag die derde munt in sy reeks van die Groot Vyf bekend gestel. Dié keer is die bedreigde renoster op ’n muntstuk.

Die agterkant van die nuwe renoster muntstuk van die Munt se groot vyf reeks. Foto: Verskaf

Die voorkant van die nuwe renoster muntstuk van die Munt se groot vyf reeks.Foto: Verskaf
Gerda Janse van Vuuren, waarnemende direkteur van die Munt, sê in ’n verklaring die doel is om met dié reeks tot die stryd teen die stroping van dié diere vir hul horings by te dra.
“Met die bekendstelling van ons renoster-muntstuk hoop ons om die wêreld te oorreed om ons te help om renosters te beskerm,” sê sy.
Die Munt vat ook vanjaar hande met die Natuurlewebewaringstrust en ’n deel van die opbrengs van die muntstukke sal geskenk word om renosters te beskerm.
Die kunswerk van die renoster op die muntstuk is uniek omdat dit bestaan uit twee helftes van ’n renoster se gesig.
“Wanneer twee muntstukke langs mekaar geplaas word, kry jy die volledige beeld van die renoster se gesig en wanneer verskeie muntstukke langs mekaar gesit word, vorm dit ’n trop renosters,” lui die verklaring.
Die muntstukke sal in verskeie weergawes beskikbaar wees.
Die muntstukke kos tussen R595 en R1 995 vir die weergawes in silwer. Die pryse vir die goud- en platinum-munte is nog nie beskikbaar nie.
*Op die eerste twee muntstukke in die reeks is die leeu en olifant uitgebeeld.