Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
SA sakeman vergoed ná val op passasierskip

’n Nederlandse skeepsmaatskappy het €12 500 aan die stigter en uitvoerende hoof van Dewfresh-suiwelprodukte betaal nadat dié 74-jarige man ernstig seergekry het aan boord van een van hul skepe.

Frik Grobler het nek-, rug- en kopbeserings opgedoen toe hy op 1 November 2018 aan ’n handreling in die stortbad van die MA Zaandam gegryp en dit van die muur losgebreek het.

Frik en Esmay Grobler op hul Suid-Amerikaanse toer. Foto: Verskaf

Luidens dokumentasie wat vroeër ter stawing van die skadevergoedingseis ingedien is, was Grobler en sy vrou, Esmay, passasiers op die luukse skip as deel van ’n toer na Suid-Amerika.

“Frik wou die Titicaca-meer en Uruguay besoek. Die enigste manier waarop ’n mens om die mees suidelike punt van Suid-Amerika kan gaan, is met ’n passasierskip,” sê Esmay.

Twee dae voordat die skip by Rio de Janeiro sou aandoen, het Grobler in hul kajuit gaan stort.

Die handreling wat van die muur in Frik Grobler se stort losgekom het toe hy daaraan vasgryp. Foto: Verskaf

Luidens eisdokumente is dit ’n stort in ’n bad.

“Ek het net begin om my hare af te spoel, toe die skip ’n skielike beweging maak. Ek het die handreling in die stort vasgegryp, want die beweging van die skip het my eers vorentoe en toe agtertoe laat ruk,” het Grobler in ’n verklaring die voorval beskryf.

Toe hy agteroor val, het die handreling van die muur af gebreek. Grobler het agteroor oor die rand van die bad geval, op sy rug op die badkamervloer beland en sy kop hard gestamp.

Hy was ’n paar minute bewusteloos met die handreling steeds in sy hand vasgeklem. Esmay het gaan hulp soek waarop Grobler na die skip se hospitaalafdeling gebring is met harsingskudding.

Met die skip se aankoms in Brasilië het vriende hom op aanbeveling van die Suid-Afrikaanse ambassade daar na die Daher-hospitaal geneem.

So verroes was dit agter die handreling wat in Frik Grobler se kajuitstort afgebreek het. Foto: Verskaf

Behalwe vir ’n volledige ondersoek moes die dokters ook bepaal of Grobler sou kon terugvlieg na Suid-Afrika met die erge pyn wat hy in sy kop, nek en rug gehad het.

Dit blyk ook dat, na ’n inspeksie op die skip na die voorval, daar bevind is dat die handreling in Grobler se kajuitstort sowel as verskeie ander op die skip, so verroes was waar dit aan die muur vasgesit was, dat dit om veiligheidsredes verwyder moes word.

Terug in Suid-Afrika het Grobler by Jean-Paul Rudd, ’n vennoot van Adams en Adams-prokureurs, aangeklop.

“Daar was gronde vir ’n skadevergoedingseis, maar die skip het gevaar onder die Nederlandse vlag, wat beteken die Hollandse reg, en nie Suid-Afrikaanse regsgronde nie, is van toepassing.

Frik en Esmay Grobler Foto: Verskaf

“Dit sou moeilik wees om ’n verlies aan inkomste weens mnr. Grobler se posisie in sy maatskappy (Dewfresh) te bewys, maar hy het sy kop so hard gestamp en sukkel steeds met hoofpyne en sy korttermyngeheue. Daarom het ons ’n aanmaningsbrief aan die versekeraars van die MA Zaandam gestuur het,” sê Rudd.

Verskeie onderhandelings het tussen Rudd en die skeepsmaatskappy se versekeringsprokureurs gevolg.

“’n Skikking moes in gevolge Hollandse wetgewing bereik word, en hulle is baie konserwatief in toekennings van skikkingsbedrae, met ander woorde, hulle betaal nie sommer ’n groot bedrag uit aan eise nie,” sê Rudd.

Die eerste aanbod wat die maatskappy aan Grobler gemaak het, was €3 000. Ná verskeie onderhandelings het hulle geskik op skadevergoeding van €12 500.

Meer oor:  Passasierskip  |  Sakeman  |  Val
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.