Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
SA se damvlakke styg die afgelope week; Gauteng s’n val

Onlangse volgehoue reënval oor groot dele van die land het die land se gemiddelde damvlak met bykans 2% oor die afgelope week laat styg.

Die vlak van die Clanwilliam-dam bekommer landbouers in die gebied wat nog vir die volgende paar maande water nodig het. Die dam staan nou op 36% teenoor verlede week se 40%. Foto: Leanne Stander

Gauteng, waar die gemiddelde damvlak onlangs die hoogste was, se gemiddelde vlak het egter die afgelope week van 103% tot 98,9% gedaal.

Luidens die departement van water en sanitasie se jongste verslag oor die stand van damme in die land, het die landwye gemiddelde damvlak van 62,4% tot 64% gestyg.

Limpopo se gemiddelde damvlak het oor die afgelope week gestyg tot 69% (teenoor 62,3% die vorige week).

Mpumalanga s’n is nou op 75,2% (74,4%).

Die Noord-Kaap bly stabiel op 80,8% (80,9%), terwyl Noordwes se gemiddelde damvlak tot 66,8% gedaal het (67,3%).

In die Oos-Kaap, waar ’n droogte oor die grootste deel van die provinsie heers, het die gemiddelde damvlak tot 51,4% gestyg (50,7%). Dit is danksy volgehoue neerslae oor groot dele van die provinsie.

Vlak van Clanwilliam-dam wek kommer

Die huidige vlak van die Clanwilliam-dam is kommerwekkend vir die landbousektor in die gebied, wat nog vir die volgende paar maande water moet hê voor die reënvalseisoen begin.

Die damvlak staan op 36% teenoor verlede week se 40%.

Cornie Swart, president van Agri Wes-Kaap, sê hoewel die einde van die seisoen naby is, is dit steeds baie warm en benodig sitrusprodusente, wingerdprodusente wat bemesting ná oeste moet toedien, en produsente wat hul wingerde weens die droogte uitgehaal en kontantgewasse soos groente aangeplant het, nog water.

Hy sê die moontlikheid bestaan dat produsente aan waterbeperkings onderwerp kan word as die damvlak tot by 25% daal.

Geen duidelikheid bestaan nog oor wanneer bouwerk aan die Clanwilliam-dam gaan begin nie, en die landbousektor het volgens hom geen waarborg dat dit wel gaan gebeur nie. Die departement van water en sanitasie het verlede jaar gesê bouwerk sal in Maart 2023 afgehandel wees.

“Die gebied is ’n groot sitrusproduserende streek met die ideale klimaat daarvoor, maar water bly die uitdaging.”

Ongeveer 5 000 ha grond tussen die Bulshoek- en die Clanwilliam-dam kan met ’n waterkwota uitvoergewasse soos sitrus en tafel- en wyndruiwe ontwikkel, en geleenthede vir hervormingsprojekte en die vestiging van nuwe produsente skep.

Lindiwe Sisulu, minister van water en sanitasie, het Oos-Kapenaars gevra om water steeds spaarsamig te gebruik en hulle op ’n droë winter voor te berei.

Die Nqwebadam teenaan die Sondagsrivier, wat die Nelson Mandelabaai-metro van water voorsien, is op 5,3% so te sê droog, terwyl die Lake Arthur-dam, wat water van die Tarkarivier kry, ’n skamele 1,8% water het. Die Kommandodriftdam op dieselfde rivier met maar 11,7% water.

Die Wes-Kaapse gemiddelde damvlak is nou op 49% (50%). Die provinsie nader die einde van sy droë somer. Die verwagte nat winter sal damvlakke laat styg.

Verlede jaar het die provinsie beduidend herstel van die ergste droogte in ’n eeu. In Oktober was sy gemiddelde damvlak op 80% (sien egter die kassie hiernaas oor die Clanwilliam-dam).

KwaZulu-Natal se gemiddelde damvlak is nou op 60,3% (57,6%). Kusdorpe – van die Dolfynkus tot die Suidkus – is die grootste begunstigdes van gereelde neerslae wat die suikerrietplantasies langs die kuslyn bevoordeel het.

Die Vrystaat, waar van die grootste damme in die land geleë is, se gemiddelde damvlak is net-net hoër op 71,1%.

Die Sterkfonteindam, wat deel van die Vaalrivierstelsel vorm, is stabiel op 92,5%, terwyl die Vanderkloofdam op 60,7% staan (60,4%).

Hoewel dit week ná week stabiel bly, bly die Fika Patsodam naby Qwaqwa amper leeg op 10,4%.

Die ikoniese Vaaldam, aangrensend tot die Vrystaat en Gauteng, is net ’n titsel hoër op 57,4% (56,9%). Die Vaaldam is steeds baie leër in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar toe dit op 71,7% was.

Noordwes se gemiddelde damvlakke het effens gesak tot 66,8% (67,3%).

Die afgelope vier maande het die provinsie se gemiddelde damvlak egter aansienlik verbeter van die 43,7% waarop dit in November verlede jaar was.

Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement, sê die syfers weerspieël die ware impak van die laat reënval dié somer saam met baie hoë temperature, wat tot ’n hoë verdampingskoers gelei het.

“Dit dui op die onafwendbare impak van klimaatsverandering en die volgehoue behoefte om die land se skaars waterbronne te beskerm.”


Meer oor:  Gauteng  |  Droogte  |  Waterkrisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.