Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
My pa noem homself nou ‘Mnr. Heelal’
‘SA se liefde dra my tot by kroon’

“My pa was nog altyd my grootste ondersteuner. En noudat ek Mej. Heelal is, noem hy homself Mnr. Heelal,” het Zozibini Tunzi Saterdag op die O.R. Tambo-lughawe gespot.

Suid-Afrika se eie Mej. Heelal, Zozibini Tunzi, Saterdag kort nadat sy vanuit New York op die O.R. Tambo-lughawe aangekom het vir ’n blitsbesoek. Foto: Elizabeth Sejake

Sy glo die liefde van ouers, veral ’n vaderfiguur, in ’n kind se lewe is baie kragtig.

Die 26-jarige Tunzi het Saterdag in Suid-Afrika aangekom nadat sy op 8 Desember in Atlanta in die VSA as die 68ste Mej. Heelal gekroon is.

’n Emosionele Tunzi het aanhangers op die lughawe toegespreek en vele dankies gesê – veral vir dié wat te midde van swaar reën steeds moeite gedoen het om douvoordag vir haar op die lughawe te wag en geluk te sê.

Sy sê sy kon Suid-Afrikaners se liefde regdeur haar reis tot by die kroon voel en waardeer dit baie.

“Ek het nie alleen op daardie verhoog gestaan nie. Ek het daar gestaan as verteenwoordiging van miljoene Suid-Afrikaners. Dis te danke aan julle elkeen dat ek is wie ek is en waar ek is,” het sy trots gesê.

'Ouers moet kinders se drome raaksien.’

Tunzi kan nie wag om haar ouers te sien wat in Tsolo in die Oos-Kaap woon nie. Hulle gaan ’n week lank saam met die gemeenskap fees vier.

“As dit nie vir my ouers en gemeenskap se konstante ondersteuning en liefde was vandat ek ’n dogtertjie was nie, sou ek nie nou hier gestaan het as Mej. Heelal nie.”

Volgens haar is dit belangrik dat ouers hul kinders se drome moet raaksien en ondersteun. “Jy weet nooit wat hulle met hul klein drome kan doen nie.”

Tunzi gaan net ’n week in Suid-Afrika wees voordat sy na New York terugkeer om haar pligte as Mej. Heelal vir die res van die jaar te hervat.

Zozibini Tunzi is Saterdag ingewag deur ’n groep gretige jong meisies van die nieregeringsorganisasie Phenomenal Woman se program #TakeUpSpace. Hulle droom is om nes Tunzi hul stempel af te druk in die samelewing en suksesvol te wees.

“Ek mis ons diverse kultuur, musiek en kos (veral Nando’s) baie daar. Maar dis ook die wete dat ek ’n Suid-Afrikaner is wat my aan die gang hou.”

Kort ná haar kroning het Tunzi gesê jong meisies moet geleer word om ruimte op te neem in die samelewing. Dié woorde het baie Suid-Afrikaners geïnspireer.

Een van hulle is die 17-jarige Retha­bile Mapiso, wat al die pad van Dealesville in die Vrystaat gereis het om haar op die lughawe te sien.

Sy is een van 50 meisies wat deel is van die nieregeringsorganisasie Phenomenal Woman se nuwe program genaamd #TakeUpSpace, wat jong meisies leer om diep spore te trap in die samelewing.

“Ons is al van 04:30 vanoggend hier om Zozi te sien en ek is so opgewonde en dankbaar dat ek kon kom,” het Rethabile gister gesê.

Meer oor:  Zozibini Tunzi  |  Mej. Heelal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.