Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
SA skitter wéér in goud op Chelsea

Die Kirstenbosch Botaniese Tuin in Kaapstad het weer vanjaar goud op die Royal Horticultural Society (RHS) se jaarlikse Chelsea-blommeskou in Londen verower.

In die 44 jaar van uitstal by dié blommeskou is dit die 37ste goue medalje wat Suid-Afrika verdien.

Leon Kluge die landskapsargitek van vanjaar se uitstalling van die Kirstenbosch Botaniese Tuin op die Chelsea-blommeskou in Londen. Foto: Verskaf

Dié jaarlikse hoogtepunt op die Britse somerkalender word vanjaar van 21 tot 25 Mei gehou.

Die Kirstenbosch Botaniese Tuin se uitstalling getiteld Mountains of Abundance is met ’n goue medalje op vanjaar se Chelsea-blommeskou in Londen bekroon. Foto: Verskaf

Vanjaar se uitstalling van Suid-Afrika, getiteld Mountains of Abundance, is ’n 3 m hoë voorstelling van ’n berg wat gedeeltelik op Tafelberg asook die Magaliesberg geskoei is. Rondom die “berghange” word abstrakte watervalle deur helderkleurige tradisionele Ndebele-hoede uitgebeeld, met massas proteas, lelies en fynbos rondom wat die wildeplantegroei aan die berghange verteenwoordig.

Leon Kluge, die landskapsargitek verantwoordelik vir die ontwerp, sê elke plant in die uitstalling verteenwoordig en vertel ’n storie van Suid-Afrika se wye spektrum van blomme aan die wêreld.

“Benewens die fynbos het ons vanjaar koningproteas in al die verskillende kleure – iets waaroor ek baie opgewonde is. Daar is ook meer skaars protea-spesies ingesluit, soos die kleiner spesie wat in die sand lê en deur muise bestuif word,” vertel hy.

Hy sê met al die plante wat saamgevat is om die uitstalling merkwaardig te maak, is dit steeds net ’n fraksie van Suid-Afrika se biodiversiteit wat ten toon gestel word.

Kluge, wat ook vir 2018 se gouemedalje-ontwerp by die blommeskou verantwoordelik was, erken daar is altyd druk om die uitstalling van die vorige jaar te oortref en hy is dankbaar dat hulle vanjaar weer ’n goue medalje kan huis toe bring.

Beryl Ferguson, voorsitter van die raad van die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteit-instituut (SANBI), het ook Kluge se ontwerp as uitstekend beskryf.

“Ek het gedink verlede jaar se uitstalling was skitterend, maar 2019 se ontwerp het dinge tot ’n nuwe vlak verhef.

“Om Leon se ontwerp te sien lewe kry was opwindend en in der waarheid is die uitstalling selfs meer indrukwekkend en verteenwoordigend van Suid-Afrika se ryke natuurlike erfenis.”

Die gesogte blommeskou in Londen word ook jaarliks deur koninklikes besoek.

Town and Country berig dat Catherine, die hertogin van Cambridge, vanjaar ook ’n uitstalling by die blommeskou het.

Koning Elizabeth het Catherine se uitstalling tydens ’n voorskou van die blommeskou besigtig.

Meer oor:  Londen  |  Omgewing  |  Goud
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.