Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
SA steeds die beste land – Wynand du Toit
Wynand du Toit, die oudverkenningsoldaat, aan die woord in Perth, Australië. Links sit sy vrou, Frances. Foto: Verskaf

“Suid-Afrika is steeds die beste land in die wêreld,” sê die oudverkenningsoldaat Wynand du Toit, wat pas teruggekeer het van ’n besoek aan Australië.

Du Toit is een van Suid-Afrika se bekendste oudsoldate nadat hy in die 1980’s in Angola gevang en eers baie later vrygelaat is.

Du Toit het in Australië met voormalige Suid-Afrikaanse soldate en dienspligtiges wat in dié land woon, gesels op uitnodiging van die Suid-Afrikaanse Militêre Veteranevereniging in Australië (Samvua). Tydens die besoek het hy ook die boeke wat hy geskryf het in die land bekend gestel.

Du Toit en sy vrou, Frances, was drie weke in Australië en het formele geleenthede in Melbourne en Perth bygewoon.

In Perth het hulle tuisgegaan by Garth Pienaar wat in 1979 saam met hom die junior leierskursus in Oudtshoorn gedoen het.

In Melbourne het hulle tuisgegaan by ’n ander vriend van hom, Joe Keyter, wat ook saam met hom in die weermag was.

Du Toit sê dit is nie maklik vir Suid-Afrikaners om daar aan te pas nie. “Die manne gaan soms deur moeilike tye en verlang na Suid-Afrika. In die breë gesien, gaan dit egter goed met hulle. Hulle word hoog aangeskryf in Australië.

“Ons het almal destyds ’n oorlog in Suid-Afrika baklei om ons waardes te beskerm en lewenstandaarde te handhaaf.

“Wanneer ’n mens dit nie meer kan bereik nie, dink ek dis geregverdig om dit in ’n ander land te gaan soek. Onthou, mense se eerste verantwoordelikheid is teenoor hul gesinne.”

Hy het beslis geen planne om die land te verlaat nie omdat dit te duur is en hy reeds byna 60 is.

“Die belangrikste is dat ek nie Afrika uit my bloed kan kry nie. Dit is wonderlik om daar in Australië te ry. Dinge werk en daar is orde.

“Maar toe ek hier in Suid-Afrika van die vliegtuig afklim, toe voel ek dat ek weer tuis is. Suid-Afrika is steeds die beste land in die wêreld.

“Dit is jammer dat misdaad ons land so verwoes. Ons sal hier ’n verskil moet maak.”

Du Toit is reeds volstoom besig aan sy volgende boek wat later verskyn.

Hy is ook besig om sy penne in die Kongo op te trek waar hy nog landbou-belange het. “Ek moes ’n besluit oor my toekoms neem. Die skrywery het gewen.”

Meer oor:  Suid-Afrika  |  Wynand Du Toit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.