Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
SA tydkapsules tot 2120 in kelder verseël

’n Pretorianer wil 4 500 water- en lugdigte kapsules aan Gauteng se Wes-Rand begrawe sodat mense in 2120 – oor 101 jaar – kan sien hoe ons vandag in Suid-Afrika geleef en watter tegnologie ons gebruik het.

Dr. Eugene Botha wys sy tydkapsules wat hy vir Vault 2120 in die Maropeng-erfenissentrum in die Wieg van die Mensdom vir meer as honderd jaar wil begrawe. Foto: Werner Botha

Dr. Eugene Botha (55), ’n rolprentmaker van Pretoria wat vir 20 jaar professor in die Nuwe Testament en vroeë Christelike studie by Unisa was, se erfenisprojek, wat hy Vault 2120 noem, het uiteindelik die afgelope maand ’n tuiste by die Maropeng-erfenissentrum in die Wieg van die Mensdom gevind.

In November vanjaar sal ’n kelder daar verseël word wat ’n “verteenwoordigende rekord” van hedendaagse artefakte bevat.

Elk van Botha se 4 500 aluminium-houers, wat in grootte sal wissel, sal enigiets van sporttoerusting en stukkies kitskos tot resepte, blikkieskos en wetenskaplike monsters van water, grond en plante bevat.

“Dink aan ’n USB vol politiek, ekonomie en wiskunde.

“DNS, boeke, kuns, klere, popmusiek, opera, selfone, foto’s, ’n blompot, dalk jou kind se speelgoed?

“En, belangrik, die kragdrade en elektrisiteit van vandag, moet ook gebêre word,” sê Botha.

Indien dié tegnologie verander, moet die ontdekkers van sy kapsules eendag vandag se elektroniese apparate kan aanskakel – “veral as die res van ons lankal dood is”.

“Die wêreld soos ons dit nou ken, gaan drasties en onherkenbaar verander.

“Die tempo van tegnologiese ontwikkeling gaan so versnel dat ons waarskynlik in die volgende honderd jaar ’n paar duisend jaar se tegnologiese ontwikkeling en vooruitgang gaan sien.”

Hy sê enigiemand kan ’n kapsule bekom – van maatskappye tot families tot kerke – om met unieke inhoud die toekoms in te stuur.

“Dit is niks anders as time travel nie,” sê Botha. “ ’n Enkele argeologiese artefak kan ’n hele storie vertel.”

Botha nooi die “hele land” om iets betekenisvols vir die toekoms te bêre.

Selfs as jy ’n geheim wil wegsteek: “As jy geheime dokumente, foto’s en inligting het wat nie nou openbaar gemaak kan word nie, kan jy dit in ’n tydkapsule deponeer en dit word eers weer oor 100 jaar bekend gemaak. Met ’n verrassing.”

In Amerika, Engeland, Nieu-Seeland, Australië en Kanada is soortgelyke projekte ook van stapel gestuur.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.