Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
SA verloor ’n ‘politieke heer’

Dr. Alex Boraine, voormalige ondervoorsitter van die Waarheids-en-versoeningskommissie (WVK), was ’n “ware heer wat lief was vir sy land”.

Só het emiritus-aartsbiskop Desmond Tutu, wat destyds WVK-voorsitter was, gereageer op die nuus dat Boraine (87) Woensdagoggend by sy huis in Kaapstad gesterf het.

Alex Boraine
Dr. Alex Boraine Foto: SHARIEF JAFFER

Tutu en sy vrou, Leah, het in ’n verklaring gesê hulle is baie hartseer oor Boraine se afsterwe, veral omdat hy ook ’n “bewonderde kollega en goeie vriend” was.

“As WVK-ondervoorsitter was Alex deurdag, gerusstellend, georganiseerd en doeltreffend. Hy het seker gemaak dinge volg in die gepaste orde.

“Hy was meer as ’n regterhand. Ek kon nie die kommissie sonder hom bestuur het nie.”

Die Tutu-egpaar het hul innige simpatie aan die Boraine-familie met die heengaan van “ ’n medereisiger op die reis na ’n beter Suid-Afrika” uitgespreek.

Boraine se seun Jeremy Boraine het Woensdag sy pa se afsterwe aan News24 bevestig.

Volgens hom was sy pa in remissie van kanker, maar het sy toestand die afgelope ruk versleg.

“Hy het ’n week gelede geval en opgehou eet. Hy het net swakker en swakker geword,” het News24 berig.

Andrew Boraine, sy ander seun, het Woensdag op sy Facebook-blad geskryf dat sy pa oorleef word deur sy vrou, Jennifer Boraine, en sy vier kinders Andrew, Kathryn, Jeremy en Nichola, hul metgeselle en sewe kleinkinders.

“Ons onthou hom eerstens as ’n liefdevolle en slim man, pa en oupa. Ons salueer sy lewenslange toewyding tot nie-rassigheid, menseregte, die demokrasie en maatskaplike geregtigheid in Suid-Afrika en die wêreld. Hy het ons meesal met sy passie vir die lewe en sy groot hart geïnspireer,” lui Andrew se Facebook-inskrywing.

Hy was ’n briljante politieke denker en nie net tydens die WVK nie.
Adv. Willie Hofmeyr

Adv. Willie Hofmeyr, hoof van regsdienste by die nasionale vervolgingsgesag, het gesê hy het in die eerste demokratiese parlement as ANC-LP baie nou met Boraine saamgewerk tydens die opstel van die WVK-wetgewing.

“Hy het ’n ongelooflik belangrike rol gespeel om die WVK-wetgewing te help ontwikkel. Oor hoe dit prakties sou werk, ensovoorts. Ek was hoogs beïndruk deur sy medemenslikheid en insig.

“Hy was ’n briljante politieke denker en nie net tydens die WVK nie.

“Hy het saam met dr. Frederik Van Zyl Slabbert (in 1986) die Instituut vir ’n Demokratiese Alternatief vir SA (Idasa) gestig wat ’n belangrike en groot rol gespeel het om uit te wys wat destyds verkeerd was in die land.

“Deur Idasa het hulle ook ’n belangrike rol gespeel om die ANC en die NP met mekaar te laat praat, soos by die Dakar-vergadering (in 1987) met ANC-leiers.

“Hulle het swart en wit mense, wat vyande van mekaar was, aan die praat gekry en is erg daarvoor gekritiseer.”

Volgens Hofmeyr het Boraine en Van Zyl Slabbert sodoende destyds die politieke diskoers in die land verskuif.

“Suid-Afrika is hom baie verskuldig. Hy het ook ’n merkwaardige invloed om my as jong student en aktivis gehad. Hy sal erg gemis word.”

Patricia de Lille, voormalige Kaapstadse burgemeester, het gesê Suid-Afrika het ’n baie goeie landsburger verloor.

“Almal het vir Alex geken. Hy het altyd gestaan vir regverdigheid en sal onthou word vir die rol wat hy in die stryd teen apartheid gespeel het.”

Meer oor:  Huldeblyk  |  Politikus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.