Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
SA weermag te dun vir Burundi
Generaal Solly Shoke (AFP)

Suid-Afrikaanse soldate sal nie binnekort na Burundi gestuur word om ’n burgeroorlog daar te voorkom nie.

Dit is ondanks die Afrika-Unie (AU) en die Verenigde Nasies (VN) se jongste pleidooie aan die Suid-Afrikaanse Weermag om by te dra tot ’n ingrypingsmag in dié land.

Ban Ki-moon, sekretaris-generaal van die VN, het persoonlik via die presidensie dié versoek gerig aan genl. Solly Shoke, weermaghoof.

Maar die weermag sê hy het eenvoudig nie genoeg soldate daarvoor nie.

“Die weermag is tans tot sy maksimum ontplooi,” sê brig.genl. Chris Gildenhuys van die weermag se afdeling vir gesamentlike operasies.

“Met die ontplooiings in Soedan en die Demokratiese Republiek van die Kongo vir 12 maande op ’n keer, sowel as die grensbeskerming, kan ons beswaarlik nog soldate afstaan,” sê Gildenhuys.

Minstens 90 mense is die afgelope dae dood in skermutselings tussen soldate van Burundi se weermag en gewapende opposisiemagte.

Die geweld het in April vanjaar begin nadat pres. Pierre Nkurunziza aangekondig het hy gaan hom verkiesbaar stel vir ’n derde termyn as president.

Dít het grootskaalse opstande aangevuur wat tot toenemende bloedvergieting gelei het.

“Die regering het ons gevra of ons enige bykomende kapasiteit het, maar ons het eenvoudig tans niks nie,” sê Gildenhuys.

’n Afvaardiging van die AU was die afgelope week in Bujumbura, Burundi se hoofstad, om die situasie daar waar te neem. ’n Senior Suid-Afrikaanse offisier was deel van dié afvaardiging.

Die Suid-Afrikaanse ambassade in Burundi is nog beman, maar ander lande, waaronder die VSA, het begin om hul nienoodsaaklike personeel daar te onttrek.

Volgens Vice News het die Amerikaanse ambassadeur aan die VN, Samantha Power, in e-pos aan die Britse en Franse VN-verteenwoordigers in New York gesê: “Ons onttrek uit Burundi. Ons opsomming is dat ­alles hier op pad is hel toe.”

Soldate van Burundi het die afgelope week lyke in die strate van die hoofstad sonder seremonie agterop militêre bakkies gegooi ná skermutselings.

Minstens 240 mense is sedert April vanjaar in dié land dood en honderde opposisielede en -leiers is in aanhouding.

Suid-Afrika se dienstermyn as leier van die Afrika-bystandsmag (ACIRC) verstryk einde Desember. Tsjad sal dié roterende verantwoordelikheid in Januarie oorneem.

Die bystandsmag is egter nog nie gereed nie. Volgens Gildenhuys het Suid-Afrika die nodige toerusting en voertuie, maar nie genoeg mannekrag vir volskaalse ontplooiing nie.

“Suid-Afrika is een van die sleutellande vir die ACIRC en as sulks is ons veronderstel om binne sewe tot 14 dae gereed te wees om te ontplooi. Die ander lande se soldate moet dan volg,” sê Gildenhuys.

Suid-Afrika het in 2001 ’n stabiliseringsmag in Burundi ontplooi en was bykans tien jaar lank daar betrokke – eers as deel van ’n AU-ontplooiing en later as deel van ’n VN-operasie.

Daar is toe gemeen dat die land stabiel is, maar daar was terselfdertyd vrese dat dit ’n brose vrede was.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.