Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Sabotasie’ van kragnetwerk is bog, sê vakbond, kenner

Die bewerings dat sommige Eskom-werkers die nasionale kragnetwerk saboteer, is net ’n rookskerm wat die Eskom-direksie gebruik om hulle eie basse te red, sê die metaalwerkersvakbond Numsa en Ted Blom, energieraadgewer van Mining & Energy Advisors.

Dit kom nadat News24 Dinsdag berig het dat die polisie se misdaadintelligensie-eenheid ondersoek of die huidige vlaag van beurtkrag deels aan sabotasie toegeskryf kan word.

Ted Blom, konsultant van Mining & Energy Advisors.

Brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, wou dit nie bevestig óf ontken nie.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het Dinsdag op ’n mediakonferensie in Johannesburg gesê daar is geen bewyse dat werkers vanjaar die kragverskaffing in die wiele probeer ry het nie. In 2018 het sabotasie glo wel in sekere gevalle tot beurtkrag gelei.

Volgens News24 het senior bronne in misdaadintelligensie egter bevestig dat dié eenheid ’n mandaat gegee is om te bepaal of die huidige kragonderbrekings opsetlik deur Eskom-werkers veroorsaak word.

Die werkers is glo ontevrede oor die regering se planne om die sukkelende kragverskaffer te hervorm.

Eskom het Dinsdag aangekondig dat hy reeds daarvoor beplan het om fase 5- en 6-beurtkrag in te stel om ’n nasionale ineenstorting van die kragnetwerk te voorkom.

Fase 5 en 6 beteken vir gebruikers meer gereelde beurtkragonderbrekings van dieselfde duur as tans.

Die vakbonde Numsa en Solidariteit sê hulle is nie bewus van enige sabotasie deur werkers nie.

Phakamile Hlubi-Majola, Numsa-woordvoerder, voer aan dat die polisieondersoek ’n poging van die Eskom-direksie is om die skuld op gewone Eskom-werkers te pak.

“Die skuld vir die huidige beurtkragkrisis moet voor die deur van die ANC-regering gelê word. Dit is hy wat verantwoording moet doen,” sê sy.

Blom sê die huidige Eskom-direksie, wat deur pres. Cyril Ramaphosa aangestel is om Eskom reg te ruk, het nie die nodige ervaring om dit te doen nie.

Ons doen ’n beroep op elke Suid-Afrikaner in elke gemeenskap, dorp en stad in die land om hulle by ons aan te sluit om te betoog teen dit wat nou in ’n nasionale krisis ontaard het.
Mmusi Maimane

Hy meen ook dat die polisie na strooihalms gryp wat die sabotasie-bewerings betref.

Eskom se woordvoerders, Khulu Phasiwe en Dikatso Mothae, het nie op navrae gereageer nie.

Intussen sê die mynwerkersvakbond NUM hy gaan vandeesmaand voort met sy beplande optog na Luthuli-huis, die ANC se hoofkantoor in Johannesburg, om teen die voorgestelde ontbondeling van Eskom te betoog.

Dít kom nadat hy Dinsdag met Ramaphosa, Gordhan en Jeff Radebe, minister van energie, vergader het.

Ramaphosa het vroeër aangekondig dat Eskom ontbondel gaan word en in drie dele verdeel sal word in ’n poging om hom uit sy finansiële verknorsing te red.

In ’n verklaring wat Dinsdag uitgereik is, sê NUM die vergadering het “elemente van hoop” gehad. Hy gaan egter eers met sy Eskom-lede vergader om die inhoud daarvan te bespreek.

Mmusi Maimane, DA-leier, het Woensdag in Megawatt Park, Eskom se hoofkantoor in Sunninghill in Johannesburg, met verwysing na die regering wat daarvoor verantwoordelik is om die ligte aan te hou ’n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om standpunt in te neem “voordat dit te laat is”.

Hy het sy party se planne om op 29 Maart ’n “nasionale dag van aksie” te hou bekend gemaak.

“Ons doen ’n beroep op elke Suid-Afrikaner in elke gemeenskap, dorp en stad in die land om hulle by ons aan te sluit om te betoog teen dit wat nou in ’n nasionale krisis ontaard het,” het Maimane gesê.

Meer oor:  Eskom  |  Numsa  |  Ted Blom  |  Pravin Gordhan  |  Sabotasie  |  Beurtkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.