Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Sak Sarel, sê dorp ná DA-man als wys

’n DA-wyksraadslid van Schweizer-Reneke sê sy fotoglips – toe hy ’n naakfoto van homself op ’n WhatsApp-inligtingsgroep van dié Noordwes-dorp gedeel het – was dalk te wyte aan pocket dial terwyl hy gedraf het, of kuberkrakers.

Sarel Strydom, DA-raadslid vir wyk 9 in die Mamusa-munisipaliteit wat Schweizer-Reneke bedien, het dié foto van homself in sy adamsgewaad in die spieël geneem. Rapport het die swart blokkie bo-oor geplaas. Foto: Verskaf

Toe Sarel Strydom (49) die afgelope Donderdag met Rapport praat, trek dié foto al in die Amerikaanse deelstaat Texas.

“As jy die foto gesien het, sal jy weet ek het geen rede om skaam te wees nie.”

Hy sê Schweizer se tweede WhatsApp-fotonagmerrie het verlede Sondagoggend begin.

“Ek en my suster het gaan draf terwyl my lewensmaat die waterkar bestuur het. Ek het die virtual-Comrades gehardloop. Sy het later by hom ingeklim en toe ek weer sien ry hulle langs my in.”

Sy dag het eensklaps drasties verander.

‘Hy het darem sy plakkies aangehou.’

“My lewensmaat het gesê ek is besig om iets op die WhatsApp-groep te plaas. Toe kyk ek op my selfoon en toe ek die foto sien, het ek dit dadelik delete,” vertel Strydom.

Hy woon al byna 20 jaar in die dorp en is al tien jaar ’n DA-raadslid daar.

In 2016 het die stoute foto wat nóg ’n inwoner, Margaret van Wyk, per ongeluk op die skool se hokkiegroepie gedeel het, groot opslae gemaak.

Sy foto, sê Strydom, is eintlik héél onskuldig geneem.

“Ek word op 15 Julie 50 jaar oud en wil goed lyk vir my verjaardag. Só, ek doen al van Januarie af pilates en het die foto geneem om my vordering te sien.

Sarel Strydom, die DA-raadslid. Foto: Facebook

“Ek weet regtig nie hoe dit gedeel is nie. Ek het selfs op ’n kol gedink dit kan dalk hackers wees, maar ek is nie slim genoeg om dit te verduidelik nie.”

Hy sê daar is “plus minus 2 200 foto’s op my selfoon en hierdie is die enigste een van ’n kaal mens”.

“Die foto was in ’n folder gesave. Hoe dit van daar tot op die groep gekom het, weet ek nie.”

Strydom kry wel goeie terugvoer uit sy wyk.

“Veral die vroue steun my.

“Hulle sê die mans het my foto op al wat ’n mansgroep is versprei, maar wil dit nie vir hulle wys nie – dalk omdat ek in ’n beter toestand is as hulle,” lag Strydom.

Teen Donderdag het hy nog nie met sy partystrukture in aanraking gekom nie.

“Julle gaan nou die foto seker op die voorblad publiseer, so ek sal hulle nou maar móét vertel.”

Rapport se bronne in die dorp verkneukel hulle in Strydom se penarie.

“Hy het darem sy plakkies aangehou, maar pleks hy die bed opgemaak het. Sarel het hom vreeslik opgetouch vir dié foto. As jy mooi kyk, sal jy sien tot sy beenhare is geskeer,” sê een anonieme inwoner.

Nog een sê die groep waar die foto gedeel is, duld gewoonlik nie eens grappies nie. “Jy mag nie op Inligtingsgroep 2 snaakse goed deel of adverteer nie en hier doen Sarel toe altwee. Daardie foto trek al in Texas,” sê nog een.

Dié dorpenaar sluk swaar aan Strydom se verduideliking.

“Die storie van hackers was dadelik die verskoning, maar Sarel het eers bewus geword van die foto toe iemand hom uit die dorp gebel het. Ook gawe hackers daardie, maak die plasing 09:35 en verwyder dit weer 09:36.”

Meer oor:  Schweizer-Reneke  |  Whatsapp  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.