Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Sakekamer wil 2 kragstasies red

Die Middelburgse sakekamer het André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, op ’n vergadering ingelig dat sy lede twee Eskom-kragsentrales wat binnekort gesluit word, Hendrina en Komati, wil koop.

Die sakekamerlede wil die twee ou kragsentrales toerus met die Chinese sirkulerende vloeibed (SVB) -tegnologie vir stoomketels wat minder as ’n derde van die skadelike gasse uitlaat as die verpoeierde steenkool wat Eskom in sy steenkoolkragsentrales gebruik.

Eskom wil Hendrina en Komati in die volgende 12 maande reeds afskakel. Die kragsentrales is onderskeidelik in 1976 en 1966 voltooi.

Komati is in die 1990’s selfs afgeskakel omdat Eskom destyds ’n surplus aan elektrisiteit gehad het, maar sowat tien jaar gelede gerestoureer en weer in bedryf gebring weens die land se elektrisiteitskrisis.

Junior van Niekerk, president van die sakekamer, wat as MCCI bekend staan, sê van die energie-intensiewe maatskappye in Middelburg is Samancor Chrome en Columbus, die land se enigste vervaardiger van vlekvrye staal, asook die koeldrankvervaardiger Twizza, wat ’n groot aanleg op dié dorp het.

Al die ondernemings is uiters kwesbaar ten opsigte van beurtkrag en wil bitter graag stabiele elektrisiteitsbronne hê.

“De Ruyter het gesê dit klink na ’n lewensvatbare voorstel, maar het daarop gewys dat heelwat burokratiese besluite nog geneem sal moet word om dit moontlik te maak. Eskom is egter besig daarmee.

“Hy het ons gevra om met tasbare en kwantitatiewe voorstelle vorendag te kom,” sê Van Niekerk.

Adv. Mtho Xulu, president die Suid-Afrikaanse Kamer vir Handel en Nywerheid wat die vergadering gereël het, sê die Middelburgse sakekamer het daarna ’n taakspan aangewys wat aan voorstelle vir ’n formele aanbod moet werk.

Die vergadering het voorverlede Dinsdag plaasgevind, ’n week nadat pres. Cyril Rama­phosa hom sterk uitgespreek het ten gunste van die verkoop van ou Eskom-kragstasies aan private kragopwekkers.

Die belangrikste voorwaarde vir die moontlike verkoop van Hendrina en Komati is die totstandkoming van ’n onafhanklike transmissie-maatskappy.

Albei kragsentrales is uiters duur om te bedryf omdat hulle so oud is.

Beert Mouw, ’n energiekenner, sê kleiner eenhede is egter geskik vir opgradering met die SVB-tegnologie, wat die stoomketels sal vervang.

Selfs al word niks van die bestaande eenhede gebruik nie, sal dit die nuwe eienaars van die kragsentrales miljarde bespaar.

Meer oor:  André De Ruyter  |  Middelburg  |  Hendrina  |  Kragstasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.