Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Sakeman kritiek ná vragmotor sy stilstaande motor tref
Die wrak van die motor wat in die botsing betrokke was.

’n Sakeman van Gqeberha (Port Elizabeth) is kritiek nadat ’n vragmotor ’n stilstaande motor met ’n pap wiel langs die N2 getref en blykbaar byna 15 m ver gesleep het.

Mario de Ridder is onder verdowing in ’n Baaise hospitaal nadat ’n vragmotor glo Maandagaand op die N2 naby die Van Stadensbrug teen sy stilstaande motor vasgery het.

Hoewel Mario de Ridder (48) tans in ’n plaaslike hospitaal onder verdowing is, het sy familie dit as ’n wonderwerk beskryf dat hy en sy twee passasiers die voorval oorleef het.

“As jy kyk na Mario en na die motor(wrak), kan jy nie dink hy kom uit daai motor nie. Hy het nie een skrapie aan sy gesig nie. Al sy beserings is inwendig. Dit is absoluut ’n wonderwerk dat hy leef,” het Gillean van Wyk, De Ridder se suster, Woensdag aan Netwerk24 gesê.

De Ridder en sy twee passasiers was Maandagaand na Jeffreysbaai onderweg, voordat hulle die volgende dag na Plettenbergbaai sou vertrek het, toe sy motor net duskant die Van Stadensbrug ’n pap wiel kry.

Hy het noodgedwonge langs die N2 stilgehou.

“Die passasier het uitgeklim om die spaarwiel uit die bagasieruim te haal. Hy het gesê hy het letterlik net vir my broer gesê 'maak oop die bagasieruim', toe tref die vragmotor en sleep die motor omtrent 15 m ver.”

De Ridder se tweede passasier het ten tyde van die voorval op die agtersitplek gelê en beserings aan sy ribbes opgedoen.

De Ridder was egter vir sowat 25 minute ná die impak bewusteloos en is eers met die aankoms van die ambulans bygebring.

Volgens Van Wyk het haar broer grootliks beserings aan sy kop en nekwerwels opgedoen, maar die omvang van sy beserings sal eers bepaal word nadat die swelling op sy brein gesak het en ’n skandering gedoen kan word.

“Hy het ’n vreeslike groot slag agter sy kop gekry. Hy het krammetjies van reg bo sy kop tot onderaan.”

Die dokters verwag die swelling sal tussen drie en sewe dae genoeg gesak het dat hulle beter sal kan sien op die skanderings, waarna ’n beter idee van die nodige behandeling ook bekend sal wees.

Van Wyk beskryf die situasie as ’n tuimeltrein van emosies, wat vererger word met streng beperkings op hospitaalbesoeke weens Covid-19-regulasies.

“Hy is een van die sterkste mense wat ek ken en dit is hartverskeurend om hom magteloos te sien.

“Ons is drie sussies en drie boeties. Ons het almal sonder ’n pa grootgeword. Ons ma is ons ma en pa, maar hy is ons oudste boetie. Hy was ons almal se rolmodel. Hy is die een wat omgesien het dat almal oukei is, en dit is nie net vir sy familie nie, maar vir al sy vriende ook. Hy het net liefde en omgee in sy hart.”

Weens die teenstrydige weergawe wat die vragmotorbestuur aanvoer, het die familie intussen besluit om Lunen Meyer, ’n plaaslike prokureur, te nader.

Meyer het by navraag gesê hulle is tans besig met ’n ondersoek rakende die meriete en omstandighede van die voorval, waarna hulle die familie sal adviseer.

Meer oor:  Gqeberha (Port Elizabeth)  |  Sakeman  |  Vragmotor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.