Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Sakeman van Kroonstad met veteraan-motors gegroet
Willem Els (59) by een van die Rolls Royce-motors wat hy versamel het. Foto: Verskaf

Een van Kroonstad se bekendste sakemanne sal volgende week met ’n parade van veteraanmotors gegroet word nadat hy die naweek aan Covid-19 dood is.

Willem Els (59) se vrou, Alta, was ook met Covid-19 in die hospitaal, maar is Dinsdag ontslaan.

Els was die eienaar van Kroon Paneelkloppers, wat reeds 44 jaar bestaan. Sy seun, Jacques, sal voortaan die onderneming bestuur.

Tiaan Els, ’n ander seun, sê sy pa het daarna uitgesien om oor vier maande af te tree en wou nog baie dinge doen.

“Hy het hard gewerk en is op 16 uit die skool om saam met sy broer, Chris, en sy pa, Frederick, die paneelklop-onderneming te begin.”

Sy pa het dit later alleen bedryf.

“My pa was ’n goeie vakman wat gereeld motors langer of korter gemaak het,” sê Tiaan.

Kroon Paneelkloppers het verskeie pryse gekry as een van die toppaneelkloppers in die land, sê hy.

Els was ’n versamelaar van veteraanmotors, waarvan die meeste Rolls Royce-motors is.

Dié motors asook ander veteraanmotors sal op 31 Julie gebruik word om van hom afskeid te neem.

’n Begrafnisdiens sal in die NG Moederkerk gehou word waarna die stoet motors sal ry na die Jordania-aftreeoord, wat Els ontwikkel het.

“Elkeen van die 50 mense wat my pa se begrafnis gaan bywoon, sal met ’n veteraanmotor deur die dorp ry. Dit gee ook ander inwoners die geleentheid om in die straat van hom afskeid te neem, sê Tiaan.

Hy sê sy pa word veras omdat hy ingevolge die Covid-19-regulasies binne drie dae begrawe moes word.

“Ons gaan my pa veras en die as begrawe langs die aftree-oord.

“Bejaardes was my pa se passie en dis hoekom hy die aftreeoord gebou het. Hy het die oord op eie koste ontwikkel,” sê Tiaan, wat die aftreeoord sal bestuur.

Els het ook twee kleinkinders, Chlöe en Wian.

Willem en Alta Els van Kroonstad. Willem is die naweek aan Covid-19 dood. Foto: Verskaf
Alta en Willem Els van Kroonstad is albei positief vir Covid-19 getoets. Willem is dood en Alta het intussen sodanig herstel dat sy uit die hospitaal ontslaan is. Foto: Verskaf
Willem Els en sy kleindogter, Chloë. Foto: Verskaf

Meer oor:  Koronavirus  |  Veteraanmotors  |  Covid-19  |  Kroonstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.