Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Sakeraad ‘moet oor toerismebedryf se toekoms besin’

Die Toerisme-sakeraad van Suid-Afrika (TBSSA) het ’n noodvergadering byeengeroep om oor die toekoms van dié bedryf te besin.

Dit kom ná vele pogings om die regering te oortuig om die toerismesektor geleidelik vir ontspanningsverblyf in vlak 3 van die inperking te heropen.

Volgens die TBSSA het die toerismebedryf besluit om sy opsies te oorweeg om die daaglikse verlies van R748 miljoen aan toerismebesteding en die permanente verlies van poste te probeer stuit.

Die raad sê pres. Cyril Ramaphosa het op 17 Junie die verdere verslapping van die inperkingsregulasies, waaronder die heropening van die akkommodasiebedryf en reis vir ontspanning, aangekondig.

Op 25 Junie is die nuwe regulasies in die Staatskoerant gepubliseer. Dit bepaal dat “ ’n persoon sy woonplek mag verlaat om vir ontspanning te reis soos toegelaat onder vlak 3 van die inperking”.

Die TBSSA sê sedert 26 Junie word verwarrende verklarings uitgereik waarvolgens ontspanningsverblyf nie toegelaat word nie.

“Vrydagaand het die presidensie se amptelike Twitter-rekening ’n infografika geplaas waarvolgens akkommodasieplekke, met die uitsondering van private wonings vir betaalde ontspanningsverblyf, vir sake- en ontspanningsreise in bedryf mag wees.”

Die twiet is die volgende dag verwyder en met ’n verklaring vervang wat lui daar was ’n fout in die grafika oor die toelating van akkommodasie vir ontspanningsreise. Luidens dié verklaring word dit nie toegelaat nie.

Die voorval het onsekerheid in die bedryf veroorsaak en die eienaars van toerisme-ondernemings weet nie wat om te doen nie.

“Ons pleit sedert vlak 3 aangekondig is by die regering, maar ons pleidooie word nie voldoende oorweeg nie.

“As gevolg hiervan moet ons ons opsies oorweeg om ondernemings in die sektor te beskerm en ook die waardeketting van toerisme en die gasvryheidsbedryf te red, anders staar permanente sluiting die bedryf in die gesig,” sê Tshifhiwa Tshivhengwa, bedryfshoof van die TBSSA.

Die TBSSA het ’n toerismeherstelplan aan die president voorgelê.

Die plan is gegrond op ’n gefaseerde benadering wat met binnelandse reise begin. Die opening van internasionale inkomende reisigers teen minstens September 2020 volg om voordeel te trek uit die somerseisoen wat van September tot April strek en 60% van Suid-Afrika se jaarlikse internasionale toerisme-inkomste genereer.

Volgens Statistieke Suid-Afrika se Toerisme-satellietrekening was die totale toerismebesteding in Suid-Afrika in 2018 R273,2 miljard.

Binnelandse toerisme het 56% van die totale besteding uitgemaak en 44% was internasionale inkomende reisigers.

Toerisme in Suid-Afrika ondersteun 1,5 miljoen werkgeleenthede en dra 8,6% tot die bruto binnelandse produk (BBP) by.

Meer as 600 000 werknemers in die toerismebedryf het vir die Werkloosheidsversekeringsfonds se Covid-19-Ters-program aansoek gedoen. Die program het in Junie geëindig.

Werknemers sal dus vandeesmaand geen inkomste kry nie.

Die jongste regulasies wat Sondagaand aangekondig is, laat mense nie toe om hotelle vir ontspanningsdoeleindes te gebruik nie. Dit beteken dat werknemers geen hoop het en geen datum waarop die toerismebedryf sal oopmaak nie.

“Ons glo die protokolle wat ons saamgestel het, is geskik vir ontspanningsreisigers,” sê Tshivhengwa.

Die toerismebedryf is “aangewys as die bedryf wat die potensiaal het om die meeste werkgeleenthede te skep, maar die huidige regulasies kortwiek werkskepping”.

Meer oor:  Koronavirus  |  Toerisme  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.