Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Sakeredders, regering haaks oor SA Express

SA Express se sleutel-kundiges en vlieëniers kies die hasepad terwyl die sakeredders en regering baklei oor die half verrotte been.

Dít blyk uit ’n vorderingsverslag van die sakeredders, Phahlani Mkhombo en Daniel Terblanche, wat die afgelope week aan krediteure van die streeklugdiens gestuur is.

Die sakeredders is in ’n openlike oorlog met die departement van openbare ondernemings wat volgens die sakeredders inmeng by die sakereddingsproses en glo agteraf probeer konkel het om van hulle ontslae te raak.

Daar is te min personeel om die nodige instandhouding te doen.

Die regering het op sy beurt openlik kapsie gemaak teen die sakeredders se plan om die lugdiens eenvoudig te hok. Volgens die regering kán die lugdiens gered word, maar hulle het nog nie ’n voldoende sakeplan gesien om nog honderde miljoene rande se belastingbetalersgeld daarin te ploeg nie.

Die sakeredders se verslag waarsku dat die “maatskappy nie genoeg vlugingenieurs met gepaste kwalifikasies/sertifikasie het om vliegtuie uit te teken en toesig te hou oor instandhoudingswerk aan vliegtuie om aan die eise van die bedrywighede te voldoen nie”.

Op die oomblik word sommige vliegtuie se onderdele gestroop om vir ’n ander vliegtuig gebruik te word terwyl die boekhouding daarvan agterweë bly, sê Mkhombo en Terblanche.

En dít terwyl die hoofbestuurder van tegniese dienste bedank het met niemand om by hom oor te neem nie én verskeie ander sleutelpersone hul bedankingsbriewe ingedien het.

Een opleidingskaptein het ’n ander werk aanvaar as ’n eerste offisier vir aansienlik minder geld net om weg te kom by SA Express, waarsku hulle.

Maar in dieselfde asem sê die sakeredders hulle kan nog nie sê of daar genoeg, te veel of te min vlieëniers is nie.

Ten tyde van die opstel van die ongedateerde verslag iewers in die afgelope twee weke het SA Express 113 vlieëniers gehad met net ses vliegtuie in die lug.

Verskeie vliegtuie is gehok omdat SA Express nie die huur daarvoor betaal het nie of nie die geld het om hulle te herstel nie.

Daar is te min personeel om die instandhoudingswerk te doen wat nodig is om die vlugrooster na te kom en veiligheid te verseker.

Boonop is daar ’n tekort aan noodsaaklike onderdele wat normaalweg in voorraad moet wees.

“As (’n reddingsboei van die regering) nie goedgekeur word nie, sal die maatskappy hom in ’n posisie bevind waar hy teen einde Maart nie salarisse, bedryfskoste en ander koste sal kan betaal nie,” waarsku die sakeredders.

Te midde van dié droewige stand van sake vlieg beskuldigings oor en weer tussen die regering en die sakeredders.

Uit die rits verklarings wat die partye uitgereik het, lyk dit asof die regering die sakeredders wil boelie om sekere magte en pligte aan die bestuur van SA Express terug te gee – iets wat die bestuur ontneem is toe die hooggeregshof in Johannesburg op 6 Februarie sakeredding gelas het.

Met sakeredding neem die sakeredders álle magte oor, maar in SA Express se geval lyk dit asof die eienaar en maghebbers nie volle beheer wil oorgee nie.

Die sakeredders sê staatsamptenare verstaan nie dié beginsel nie en ondermyn hulle.

Die enigste rede hoekom hulle oorweeg het om vlugte te staak, was omdat SA Express se vlugversekering sou verval weens uitstaande skuld en die departement nie op hul pleidooie vir nood­finansiering reageer het nie.

Op die ou end het die departement vroeër vandeesmaand ná die verstryking van verskeie spertye ’n betaling direk aan die versekeraar gemaak – sonder om die sakeredders eens in te lig.

SA Express se bestuur het weer ’n mediaverklaring uitgereik waarin hulle sê die sakeredders verstaan nie regeringsprosesse nie en hulle moes help om ’n versoek vir finansiering by die tesourie te kry.

Die departement van openbare ondernemings het teenoor Rapport ontken dat hulle die proses probeer oorneem en beheer.

Die departement sê hulle sou Donderdag met die sakeredders en SA Express se bestuur vergader het oor die versoek vir ’n reddingsboei van R691 miljoen, maar die vergadering moes uitgestel word omdat die sakeredders nie beskikbaar was nie.

Oor wanneer daar ’n antwoord gaan wees oor die finansiering, het ’n woordvoerder gesê dít hang af van die sakeredders se beskikbaarheid en of prosesse gevolg is.

Die sakeredders sê in hul verslag hulle glo SA Express kan gered word, mits die nodige finansiering beskikbaar is en die onderneming in geheel of ’n belang daarin verkoop kan word.

Meer oor:  Sakeredding  |  Sa Express
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.