Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Sampie ‘was ’n opregte, soliede man’ – Francois Jacobs

Sampie de Klerk (59) was ’n “opregte, soliede man”.

So beskryf Francois Jacobs, die akteur wat die rol van Sampie vertolk het in Huisgenoot se eeufeesfliek, Vir die voëls, vir Sampie, wat Donderdag ná ’n kort siekte dood is.

Jacobs het in Sampie se skoene geloop tydens die verfilming van hierdie romantiese fliek – ’n blik op die De Klerks van Newcastle in KwaZulu-Natal se liefdesverhaal.

Sampie en Irma de KlerkFoto: Verskaf

Die rolprent is in 2016 uitgereik nadat Sampie se vrou, Irma (née Humpel), ’n Huisgenoot-skryfkompetisie gewen het. Die fliek is hierop gegrond.

Die fliek vertel die ware verhaal van Irma (vertolk deur Simoné Nortmann) en Sampie se liefdespad vol stampe en stote tot voor die kansel.

Carien Grobler, ’n familievriendin, het vroeër gesê Sampie se hart het Donderdag omstreeks 10:00 gaan staan en hy kon nie bygebring word nie.

Vir Jacobs was dit slegte nuus. “Iets van Sampie wat ek saam met my gevat het, was sy deernis. Hy was ’n opregte, soliede man.

“As hy met jou gepraat het, was hy daar saam met jou – hy was nooit in sy kop êrens anders nie.”

Jacobs en Sampie het sowat ’n jaar gelede laas gepraat.

“Elke keer as ons mekaar gesien het, wat dit asof ek ’n beter helfte van myself sien. Ek kon baie by hom leer as mens. Mense het hom opgemerk as hy in ’n vertrek instap, sonder dat hy ’n woord gesê het,” sê Jacobs.

Nortmann sê haar hart is baie seer.

“Sampie was ’n wonderlike man. Hy het my en soveel ander se lewe onherroeplik verander. Hoe hy vir Irma onvoorwaardelik liefgehad het; hoe hy haar aanvaar het nes sy is; hoe saggeaard en sterk hy was.”

Nortmann sê soveel meisies en vroue wat die fliek gesien het, het vir haar gesê hulle wag of bid vir hul eie Sampie.

“Hy laat ’n groot legacy agter. In my oë was hy ’n volksheld.”

Die laaste keer dat sy vir Irma en Sampie gesien het, was op haar troue in Februarie.

“Irma het nog vir Sampie toebroodjies gemaak vir die kerkdiens, want sy het geweet hoe honger hy raak by troues. Hul liefde was merkwaardig,” sê Nortmann.

“Hy het in een van sy briefies aan my gesê ek voel soos ’n dogter vir hom. Soos ek sê, my hart is baie seer. Ek kan my nie eens indink waardeur Irma moet gaan nie. Sy is ’n sterk vrou, maar Sampie was haar sielsgenoot.”

Die rolprent het ook in boekvorm verskyn met François Bloemhof as die skrywer.

“Dit was ’n voorreg om met Sampie en Irma se verhaal te kon werk – en ’n skok toe sy my laat weet het hy is dood.”

Bloemhof sê een van die mooiste geskenke wat hy nog gekry het, is die biltong-messie wat Sampie vir hom gestuur het kort nadat hy die boek voltooi het.

“ ’n Mooi gebaar, heeltemal uit die bloute. Daardie handvatsel is so fyn afgewerk, die hout so gepoleer en die lem so skerp, dat dit ’n nuwe dimensie gee aan biltong eet. “Dit is asof hy elke keer by my is. Dit was goed om te besef hy is die soort mens wat ek in die boek beskryf het, met meer fasette, natuurlik; ’n volledige mens.”

Sampie en Irma sou op Kersdag 36 jaar getroud gewees het. Hulle het een seun, Werner.

Irma kon nie Vrydag vir kommentaar bereik word nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.