Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Sanef omgekrap oor KSA se ‘boeliegedrag’

’n Besluit deur Krieket Suid-Afrika (KSA) om die akkreditasie van joernaliste die afgelope naweek terug te trek is “onaanvaarbaar, ruik na boeliegedrag en moet vurig teengestaan” word.

Ghalib Galant. Foto: Argief

Só het die Suid-Afrikaanse Redakteursforum (Sanef) Maandag gereageer op KSA se poging om joernaliste wat krities is oor die beheerliggaam, “te intimideer”.

Sanef het die KSA se optrede “sterk verwerp”.

Dít volg nadat KSA die afgelope naweek die akkreditasie van vyf senior krieketjoernaliste vir die Mzansi-superliga weens “sensasionele beriggewing” teruggetrek het.

Stuart Hess (The Star), Telford Vice (Cricbuzz.com), Ken Borland (The Citizen), Neil Manthorp (SAUK) en Firdose Moonda (ESPN Cricinfo) het almal Sondag uitgevind hul akkreditasie is teruggetrek. Hulle was verplig om Sondag tussen die toeskouers te werk omdat hulle die mediabank verbied is.

Hulle het later die middag ’n e-pos gekry om te sê hul akkreditasie is geldig.

Thabang Moroe, KSA se uitvoerende hoof, het Maandag gesê die krieketskrywers is gevra om met hom te vergader. Die krieketskrywers het egter gesê dit is onwaar dat hulle ooit gevra is om met KSA te vergader.

Lees ook:

Skrywers sê Moroe praat nie waarheid met Talk Radio 702 erken dat die krieketskrywers se akkreditasie teruggetrek is omdat die organisasie ontevrede was oor hul verslagdoening oor KSA en die sport.

Sanef het Moroe se standpunt in ’n verklaring as “diep kommerwekkend” bestempel.

“Joernaliste moet toegelaat word om hul werk te doen deur diegene in magsposisies aanspreeklik te hou sonder vrees vir intimidasie of dat hulle gekeer sal word om hul werk te doen. Moroe en KSA het ’n verpligting om die onafhanklikheid van joernaliste te respekteer sonder om hulle op boelietaktiek te beroep.

Die doelwit van joernaliste is om sonder gunste of gawes verslag te doen.

“KSA, sportliggame en borge oor die algemeen moet hulle daarvan probeer weerhou om dekking deur intimidasietaktiek te beïnvloed.”

Die media sal nie ophou om foute van krieket-administrateurs te ontbloot ter voorbereiding op die toetsreeks teen Engeland oor minder as ’n maand nie.

Sanef het gevra dat KSA die joernaliste om verskoning vra; dat hulle die onafhanklikheid van die media respekteer en moet verseker hulle het toegang tot stadions.

Ghalib Galant, adjunk- nasionale koördineerder van die Right To Know (R2K)-veldtog, sê die organisasie het kennis geneem van die situasie.

“Die doelwit van joernaliste is om sonder gunste of gawes verslag te doen. Krieket wat deur KSA verteenwoordig word, is nie ’n privaat-entiteit nie, maar ’n openbare bate.

“Ons is regtig bekommerd dat ’n nasionale beheerliggaam wat ’n openbare funksie verrig só ’n antagonistiese benadering tot die media het. Ons wil nie graag ’n herhaling daarvan hê nie,” sê Galant.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.