Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
SA’ners in Afganistan, Irak ‘desperaat’ om terug te keer

Gestrande Suid-Afrikaners in Koerdistan, Irak en Afganistan het ’n noodkreet aan die owerhede gerig om hulle te help om na Suid-Afrika terug te keer.

Kathy Whitehead, ’n fotojoernalis van Wildernis wat by Beeld en City Press gewerk het en tans in ’n kampong in Kaboel, Afganistan, woon, sê hulle sukkel al vir langer as twee maande om terug te keer na Suid-Afrika. “Die situasie is baie ernstig.”

Volgens haar kan ’n mens dit nie waag om per pad êrens heen te reis nie, dit is te gevaarlik. Onlangs was daar ook weer ontploffings in Kaboel.

Vier jong mans op ’n motorfiets in Kaboel, Afganistan.Foto: Pixabay

Sy het die naweek op Facebook geskryf daar is vlugte wat vandeesweek wag vir Suid-Afrikaners in Doha, Qatar, maar vir diegene in Afganistan, Koerdistan en Irak is die Verenigde Nasies (VN) hul enigste hoop om terug te keer na Suid-Afrika.

Sy het die naweek op Facebook geskryf tot dusver was daar nog geen hulp van die VN se humanitêre lugdiens UNHAS (UN Humanitarian Air Service) nie.

Die probleem blyk te wees dat die twee gestrande Suid-Afrikaners in Afganistan en die 41 in Koerdistan “nie saam met VN-geregistreerde organisasies daar is nie”, is volgens haar aan hulle gesê.

Sy skryf die VN se lugvaart-organisasie, Icao, het op 15 April ’n kennisgewing uitgereik waarin regerings aangeraai word om vlugte vir repatriasie of humanitêre doeleindes te reël.

Ondanks die kennisgewing en navrae van die Suid-Afrikaanse ambassade in Jordanië en Pakistan namens die gestrande Suid-Afrikaners, blyk daar nog geen konkrete antwoorde te wees nie.

“Ons kans om terug te keer raak al hoe skraler,” het Whitehead voorts op Facebook geskryf. “Met so baie Suid-Afrikaners wat al vir meer as twee maande in hierdie situasie is weens die inperking in die lande waar hulle is, en die verdere inperking in Suid-Afrika, benodig ons al die hulp wat ons kan kry.”

Volgens haar is hulle almal “desperaat” om in Doha te kom vir die repatriasie-vlug.

'n Geskarrel vir vlugte

Mthuthuzeli Madikiza, die Suid-Afrikaanse hoë kommissaris in Islamabad, hoofstad van Pakistan, sê by navraag daar is tans 95 Suid-Afrikaners in Pakistan en ses in Afganistan. Die lys verander soos wat ander Suid-Afrikaners na vore kom.

Volgens hom word ’n vlug in Suid-Afrika vir hulle gereël, maar die datum is nog nie aangekondig nie.

Sodra die aankondiging gedoen word, sal daar met die Pakistanse owerhede geskakel word om reëlings te tref vir die landing en vertrek.

Ongelukkig kan die ses in Afganistan nie die vlug haal nie weens ’n gebrek aan vervoer tussen Kaboel en Islamabad, veral lugvervoer, sê hy.

’n Reisagent het aanbeveel dat daar moontlik per pad gereis kan word tussen die twee lande. Dit is aan die groep gekommunikeer om te kyk of dit lewensvatbaar is. Dieselfde is ook gedoen met die Afgaanse owerhede.

Die Suid-Afrikaanse afvaardiging in Islamabad het ook met ander ambassades daaroor gekonsulteer.

Die afvaardiging is bewus van die veiligheid-uitdagings langs die pad tussen die twee stede en daarom is gekyk na die lewensvatbaarheid.

Die afvaardiging het tot die slotsom gekom dat die enigste opsie vir die groep is om van Kaboel na Doha te vlieg met die UN se humanitêre lugdiens. Die groep word op die hoogte daarvan gehou. In Doha sal hulle oorklim op ’n vlug van die Qatar-lugdiens na Johannesburg.

Tans is daar geen vlug van Doha na Johannesburg nie. Die Islamabad-afvaardiging is voortdurend in kontak met die Suid-Afrikaanse afvaardiging in Doha. Dié onderhandel weer met Qatar Airways om ’n repatriasievlug te skeduleer.

Meer oor:  Kathy Whitehead  |  Irak  |  Afghanistan  |  Terug  |  Suid-Afrikaners  |  Desperaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.