Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
SA’ners uit Namibië in Upington-oord in kwarantyn

Die Suid-Afrikaners wat die naweek deur die Nakop-grenspos vanaf Namibië teruggekeer het, is Dinsdag van die Dr. Harry Surtie-hospitaal na Die Eiland-vakansieoord op Upington geneem waar hulle in kwarantyn geplaas is.

Die Eiland-vakansieoord in Upington.Foto: Die Eiland-karavaanpark

Gert en Ilyn Steyn van Pretoria sê die dokters en personeel van die hospitaal is uiters professioneel en het hulle oor die laaste twee dae baie goed behandel.

Die egpaar en ander Suid-Afrikaners wat ook Sondag deur die Nakop-grenspos teruggekeer het, is Dinsdag ná voorafgaande ondersoeke vir Covid-19 getoets.

Steyn sê volgens die departement van gesondheid behoort hulle hul uitslae binne die volgende twee dae te kry.

Hy sê hoewel hulle aanvanklik eers in die hospitaal se tuberkulose-eenheid gehuisves is, waar daar nie warm water of werkende ligte was nie, is hulle Maandag na ’n ander vleuel van die hospitaal geskuif, wat tans nie gebruik word nie, maar wat onlangs nog in werking was.

“Ek neem nie die personeel kwalik dat daar nie warm water was of dat die ligte nie gewerk het nie. Die eenheid was vir ’n lang tyd nie in gebruik nie en ek dink nie hulle was van die probleme bewus nie,” sê Steyn.

Hy sê hulle is andersins op die hande gedra, hartlik ontvang en tuis laat voel.

“Ons het gisteraand ook heerlik geëet,” sê Steyn.

Die Eiland-vakansieoord se wooneenhede is inderhaas Dinsdag deur die Dawid Kruiper-munisipaliteit netjies ingerig.

Die Eiland-vakansieoord se wooneenhede is inderhaas Dinsdag deur die Dawid Kruiper-munisipaliteit netjies ingerig.

Ilyn het Dinsdagmiddag gesê alles is piekfyn by die oord en dat hulle bly is dat hulle daar darem ruimte het om lekker rond te beweeg.

“Ons kyk nou na die blou-apies wat hier rondspeel. Hulle is te oulik.”

Die Steyns was met vakansie in Etosha toe hulle die nuus ontvang het dat die grensposte vir die staat van inperking gesluit gaan word.

Hulle kon nie betyds van Etosha af terugkeer om deur die grens te kom nie en moes vir nog ’n week in Namibië bly om die nodige toestemming deur die Namibiese hoë kommissaris gereël te kry om deur die grenspos te kon beweeg.

Steyn sê hulle het toe van Etosha af na Keetmanshoop gereis, waar hulle verblyf kon kry. Hulle het Saterdag tot by Ariamsvlei gereis, maar weens ’n kommunikasieprobleem was hul name nie op die lys van Suid-Afrikaners wat toestemming gehad het om deur die grenspos te kon gaan nie,

“Die Namibiese kant van die grens is uiters streng en hulle wou niemand laat deurgaan voordat daar nie toestemming van die Suid-Afrikaanse kant ontvang is nie.”

Die Steyns het daar met die ander Suid-Afrikaners kennis gemaak wat tans saam met hulle in Upington in kwarantyn is.

Die groep is uiteindelik Sondag deur die grenspos en is deur die Suid-Afrikaanse-polisie tot in Upington na die Dr. Harry Surtie-hospitaal begelei.

Suid-Afrikaners wat deur die Vioolsdrif-grenspos na Suid-Afrika sal terugkeer, sal by die Nababeep-hospitaal ondersoek word en dan by die Springbok-karavaanpark in kwarantyn geplaas word. Dit is nog nie bekend of enige Suid-Afrikaners reeds hier in kwarantyn gehou word nie.

Meer oor:  Suid-Afrikaners
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.