Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Sanger sterf maand ná kankerdiagnose

Hoewel sy geliefdes nie almal om sy sterfbed kon staan nie, het hul stemboodskappe moontlik in die laaste oomblikke van die lewe van ’n sanger en klankman van die Oos-Vrystaat troos gebring.

Tiaan Opperman (30) is Maandag omstreeks 10:30 in die Corona-hospitaal in Bethlehem dood nadat pankreaskanker sowat ’n maand gelede by hom gediagnoseer is.

“Almal wat nie hier kon wees nie, het stemboodskappe gelos, waarin hulle vir Tiaan sê hulle is lief vir hom en wat hy vir hulle beteken het. Dit was nogal baie spesiaal,” sê Marinus Opperman (34), een van sy drie broers.

Tiaan Opperman soos sy familie hom sal onthou.Foto: Verskaf

Tiaan was sowat vier en ’n half jaar die gospelsanger Dewald Gouws se klankingenieur by ongeveer 700 vertonings.

Dié musiekman, wat die laaste jare in Centurion gewoon het, het skielik in Oktober siek geword toe hy en Gouws in die Wes-Kaap by ’n Mighty Men-byeenkoms sou optree.

Dit is toe dat ’n dokter ’n gewas van 7 cm op sy pankreas gesien het, sê Gouws.

“Pankreaskanker bekruip jou. Ewe skielik slaan dit net deur en dan is dit klaar te laat,” sê Marinus.

Twee dae ná die biopsie in die Wes-Kaap het hy na Bloemfontein gevlieg en is hy in sy tuisdorp, Bethlehem, in die hospitaal opgeneem.

Hy het twee keer chemoterapie-behandeling ontvang.

Tiaan Opperman in sy hospitaalbed.Foto: Verskaf

Die Opperman-gesin sou Maandag besluit of hy sterk genoeg vir ’n rit Johannesburg toe sou wees, waar hulle ’n tweede mening sou inwin om uit te vind of hy vir immunoterapie kwalifiseer.

Hulle is egter dié dag voor 08:00 na die hospitaal ontbied om afskeid te neem.

Sy broer Liebie (36) het die naweek ’n marathon vir kankerbewustheid ter ere van Tiaan in Nelspruit gaan hardloop, sê Marinus.

Liebie was egter nie betyds om Tiaan te groet nie.

“Tiaan se hart was reg en hy het geweet hy is op pad na die liewe Here,” sê Marinus namens die familie.

Tiaan OppermanFoto: Verskaf

Gouws sê Tiaan het ’n sagte gees en ’n wonderlike, mooi hart gehad.

“Amy, hier is meer goed in hierdie situasie as sleg,” het hy aan Amy Heydenreich, ’n vriendin, gesê toe sy hom die eerste keer in die hospitaal besoek het.

Heydenreich onthou hom vir sy positiwiteit en sê hy was ’n mense-mens.

Sy wou hom graag weer hoor sing. Met een van haar besoeke, het hy, al het hy “verskriklik sleg gevoel”, vir haar gesing.

Die familie sal Tiaan agter sy kitaar en klanktoerusting onthou.

Hy laat ook sy ma, Gerda (67), en broer Abie (40) agter.

Sy roudiens is Vrydag om 11:00 in die Metodistekerk, Bethlehem.

* Tiaan, oud-leerling van die Hoërskool Witteberg in Bethlehem, het musiekproduksie aan die Campus of Performing Arts (COPA) studeer. Hy het in ’n vorige berig aan Netwerk24 gesê hy wil in die toekoms sy eie platemaatskappy hê en droom om musiek vir rolprente te skryf.

Meer oor:  Sanger  |  Sterf  |  Kanker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.