Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Sanral stil oor hoe lank Hugenote-tonnel gaan sluit
Die Hugenotetonnel tussen Kaapstad, die Paarl en Worcester. Dié bekende deel van die N1 in die Wes-Kaap kan aanstaande jaar vir instandhoudingswerk sluit, maar dit is nog nie bekend wanneer en hoe lank dit sal duur nie.Foto: BERTRAM MALGAS

Die Hugenotetonnel gaan beslis volgende jaar vir instandhoudingswerk gesluit word, maar dit is nog nie duidelik vir hoe lank nie.

Vusi Mona, kommunikasiebestuurder van die Nasionale Padagentskap (Sanral), het Vrydag bevestig dat die bestaande suidelike tonnel gesluit moet word om bouwerk veilig te kan voltooi.

“Van die werk sal kan plaasvind terwyl verkeer deur die tonnel vloei, maar dit gaan beslis heeltemal moet sluit om meeste van die werk te doen. Die tydsduur van dié sluiting moet nog vasgestel word.”

Mona het reeds verlede week gesê dat beplande onderhoudswerk volgende jaar sal plaasvind en die besonderhede daarvan “mettertyd aan belanghebbers in die Wes-Kaap bekendgemaak sal word”, berig Marelize Barnard.

Sanral kan ook nog nie sê watter alternatiewe roetes gebruik sal moet word nie omdat dié roetes, onder meer die Du Toitskloofpas, onder die provinsiale regering se beheer val.

Motors staan by die tolhekke voor die Hugenotetonnel aan Kaapstad se kant. Foto: LIEZL DAVIDS
Minstens 12 000 voertuie ry daagliks deur die Hugenotetonnel, wat die N1 van Kaapstad en die Paarl deur die Du Toitskloofberge met Worcester verbind.Foto: NASIEF MANIE

Alan Winde, LUR vir landbou en ekonomiese geleenthede, het gesê hoewel dit belangrik is om die veiligheid van die tonnel te verseker, moet die uitwerking op pendelaars uit Kaapstad en kleiner dorpe oorweeg word.

Dit gaan ook die ondernemings, nywerhede en toerisme in die streek raak.

“Daarby word bykomende druk op alternatiewe roetes geplaas, waarvan baie deur die provinsie se vervoer-, bou- en landboubedrywe gebruik word om vragte na en van Kaapstad aan te ry.”

Minstens 12 000 voertuie ry daagliks deur die tonnel.

Donald Grant, LUR vir vervoer en openbare werke, se kantoor het Vrydag bevestig dat hy van dié “noodsaaklike instandhouding en opknappings” bewus is.

“Onlangse sluitings weens elektriese probleme is slegs een aanduiding van die behoefte om dié werk te voltooi.”

Die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke is in gesprek met Sanral om die besonderhede van die sluiting uit te klaar.

“Sodra dit gefinaliseer is, sal die departement kan aandui wat die uitwerking op die padnetwerk in die geheel gaan wees, asook die planne vir alternatiewe roetes.”

Volgens Mona het ’n verslag van Sanral in November 2013 bevind dat die risiko waaraan padgebruikers in die tonnel tans blootgestel word, “onaanvaarbaar” is en met toenemende verkeer vererger.

“Om die risikovlak tot ’n aanvaarbare vlak teen 2017 te kry, het die verslag aanbeveel dat die noordelike tonnel in werking gestel word en opknappings aan die suidelike tonnel so gou moontlik begin.”

Die noordelike tonnel is destyds al gegrawe, maar nog nie gepleister en toegerus vir verkeer nie.

Motors ry op die Hugorivier-viaduk wat deel vorm van die N1 tussen die Hugenotetonnel en die Paarl.Foto: BERTRAM MALGAS

Volgens dié verslag kan bouwerk drie tot vier jaar duur om albei tonnels geskik vir verkeer in albei rigtings te maak.

Sanral het in September 2015 gesê dit is noodsaaklik dat bouwerk aan die tweede tonnel afgehandel word as gevolg van toenemende verkeer.

Tiago Massingue, projekbestuurder van Sanral in die Wes-Kaap, het destyds gesê die verkeer word ’n “reuse-uitdaging” en dat die ontwikkeling van die noordelike tonnel na ’n dubbelbaanpad dringend geword het.

Van die omvattende opknappings wat aan die suidelike tonnel gedoen moet word, sluit in om waaiers te installeer wat die lugvloei verbeter, die installering van meganiese dempers in die plafon en die vervanging van onderdele van die ventilasiestelsel.

“ ’n Tydperk van ses tot agt maande word vereis om die opknappings te doen en, as gevolg van die aard van die werk, sal geen verkeer in die tonnel in dié tyd toegelaat word nie,” het Massingue destyds gesê.

Die ingang van die suidelike tonnel van die Hugenotetonnel, waardeur motors tans ry, staan langs die ingang van die noordelike tonnel wat nog nie toegerus is om verkeer te dra nie.Foto: EDREA DU TOIT
Besoekers loop in 2015 deur die noordelike tonnel van die Hugenotetonnel wat destyds gegrawe is, maar nog nie gepleister of toegerus is om verkeer deur te laat nie. Foto: EDREA DU TOIT


Meer oor:  Hugenote-Tonnel  |  Sanral
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.