Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
SANW ‘simbool van trots en nasionale eenheid’
’n Vaandel-groep van die verskillende eenhede marsjeer tydens die viering van gewapende magte-dag in Polokwane, Limpopo. Foto: Deaan Vivier

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) is ’n simbool van ons trots en nasionale eenheid.

Só het pres. Cyril Ramaphosa Vrydag in Polokwane, Limpopo, gesê tydens ’n luisterryke viering van die jaarlikse gewapende magte-dag.

“Ons is hier om ons mans en vroue in uniform te vereer,” het Ramaphosa gesê.

Die dag word elke jaar op 21 Februarie gevier ter herinnering aan gestorwe soldate en veral diegene wat op dié dag in 1917 in die Eerste Wêreldoorlog dood is toe die stoomskip SS Mendi in die Engelse kanaal suid van die Isle of Wight gesink het.

Honderde inwoners en leerlinge van verskeie skole in Polokwane het Vrydag van vroegoggend af langs Suidstraat saamgedrom om ’n blik te kry op die lede van die weermag, vloot, lugmag en die Suid-Afrikaanse mediese dienste.

Terwyl bejaardes onder sambrele skuiling teen die son gesoek het, het die lugruim bo Polokwane gedreun soos Oryx- en Agusta-helikopters en Gripen-vegvliegtuie deur die lug geklief het. Inwoners moes die afgelope week gewoond raak aan die oorverdowende geraas terwyl vlieëniers in Hawks en in die Gripen-vegvliegtuie oefen.

Pantservoertuie was deel van die vieringe in Polokwane, Limpopo. Foto: Deaan Vivier

Minstens 6 000 SANW-lede het van so ver as Kimberley, Bloemfontein en Pretoria na Polokwane gereis vir die week lange magsvertoon.

Ramaphosa het Vrydag op ’n podium op die hoek van Suid- en Magasynstraat saam met genl. Solly Shoke, bevelvoerder van die SANW, gesit terwyl vegvlieëniers in Hawks en Gripens ’n verbyvlug gedoen het.

“Kyk . . . hy kom nou stadig in,” het Ramaphosa aan Shoke gesê terwyl hy in die skerp sonlig na ’n vegvliegtuig gekyk het. Hy het breed geglimlag voordat hy sy regteroog met ’n wit sakdoek afgevee het.

Die Gripen-vegvliegtuig verbruik 50 liter brandstof per minuut en kan ’n spoed van 1 400 km/h bereik.

Ramaphosa het gesê die SANW is betrokke in verskeie Afrikalande om te verseker dat daar vrede op die vasteland is. Hy het die weermag geloof vir hul werk om Suid-Afrika se landsgrense van 4 800 km te beskerm en die polisie te help met misdaadvoorkoming.

“As ’n nasie is ons die SANW baie verskuldig, nie net omdat hulle ons landsgrense beskerm nie, maar ook vir die ontwikkelingsrol wat hulle vervul soos om die rioolkrisis in die Vaalrivier en in Noordwes te probeer hokslaan.”

Die Gecko, een van die weermag se voertuie, is ten tyde van die viering van gewapende magte-dag in Polokwane ten toon gestel. Foto: Deaan Vivier

Ramaphosa het gesê die wêreldwye klimaatkrisis is ’n bedreiging vir Afrika en daarom het die SANW in samewerking met die Verenigde Nasies besluit om 75 miljoen bome te plant. “Ons wil bome plant, nie bomme nie,” het Ramaphosa gesê.

Hy het Vrydagoggend vroeg ’n boom geplant in die Polokwane- munisipale tuine, tussen Landdros Maré- en Kerkstraat, nadat hy ’n krans by ’n monument hier gelê het ter herdenking aan gestorwe soldate.

Die nasionale seremoniële wag, die vlootorkes, motorfietse van die militêre polisie en pantservoertuie soos die Ratel en Mamba en selfs bote van die vloot, was deel van die kleurvolle parade in Suidstraat.

Ramaphosa het Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, geloof dat sy ’n taakspan saamgestel het om ondersoek te doen na seksuele uitbuiting en misbruik in die SANW.

Lede van die vloot marsjeer tydens die vieringe in Polokwane. Foto: Deaan Vivier

“Die taakspan werk hard om voorvalle van seksuele uitbuiting en misbruik uit te roei, want dit gaan teen die grein van die militêre etos in. Dit is stappe in die regte rigting om die laakbare gedrag van ’n paar mans te stop as deel van die proses om geweld teen vroue op ons vasteland uit te roei.”

Ramaphosa het gesê hy is bly dat die SANW ook ’n week lange loopbaanuitstalling op krieketvelde in Polokwane gehou het om die jeug aan te spoor om ’n loopbaan daar te oorweeg.

Siphiwe Dlamini, die weermag se hoof van kommunikasie, wou nie sê wat die koste verbonde aan die week se vieringe is nie.

Die Gecko, een van die weermag se voertuie, is ten tyde van die viering van gewapende magte-dag in Polokwane ten toon gestel. Foto: Deaan Vivier
Pres. Cyril Ramaphosa Vrydagoggend tydens die kransleggingseremonie in die tuin van die Polokwane-munisipaliteit. Hy het die krans gelê as deel van die vieringe. Foto: Elvis Tshikudo/Limpopo- provinsiale regering
Pres. Cyril Ramaphosa het Vrydagoggend ’n krans gelê ter ere aan die soldate wat in 1917 dood is toe die ‘SS Mendi’ gesink het. Foto: Elvis Tshikudo/Limpopo-provinsiale regering
’n Ratel-pantservoertuig ry Vrydag stadig in Suidstraat, Polokwane, as deel van die viering van gewapende magte-dag in die stad. Foto: Rudzani Tshikororo
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag het Vrydag ’n luisterryke parade in Polokwane gehou. Foto: Rudzani Tshikororo
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) het Vrydag gewapende magte-dag in Polokwane, Limpopo, gevier. Foto: Rudzani Tshikororo

Meer oor:  Sanw  |  Cyril Ramaphosa  |  Limpopo  |  Polokwane  |  Weermag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.