Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
SANW staan gereed – nou vir die papierwerk

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) staan gereed om in die bendegeteisterde gebiede in die Kaap ontplooi te word, die papierwerk moet nog net amptelik afgehandel word.

So het brig.genl. Mafi Mgobozi, nasionale woordvoerder vir die SANW, Dinsdag gesê.

Die eerste personeel van 8 Suid-Afrikaanse Infanterie-bataljon (8 SAI) uit Upington in die Noord-Kaap daag Vrydag ná ’n vlug op in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Volgens hom het die troepe hul gereedheidsopleiding en ontplooiingsoefening voltooi.

“Ons wag nog. Ons troepe het Vrydag opgedaag. Hulle is op die basis en hulle wag.”

Bheki Cele, minister van polisie, het Donderdag aangekondig dat SANW-lede die polisie gaan help om bendegeweld te bekamp.

Die tien gebiede wat uitgesonder is, is Bishop Lavis, Mitchells Plain, Delft, Elsiesrivier, Nyanga, Khayelitsha, Mfuleni, Philippi, Kraaifontein en Manenberg.

Volgens art. 201 van die Grondwet kan net die president, wat die opperbevelvoerder van die SANW is, die ontplooiing van die weermag, in oorleg met die polisie, goedkeur en hy moet die parlement van sy besluit inlig.

Art. 19 van die Wet op Verdediging vereis voorts dat die minister van verdediging ’n kennisgewing van die ontplooiing in die Staatskoerant moet publiseer.

Volgens Mgobozi behels gereedheidsopleiding die uitstippeling van die doelwit van die operasie, wat presies van die troepe verwag word en voorbereiding vir die wisselwerking met die publiek.

Reneilwe Serero, Cele se woordvoerder, het Dinsdag gesê die laaste wetlike dokumentasie vir die ontplooiing word nog verwerk.

“Ons klaar nog al die wetlike aspekte en die papierwerk uit. Dit is nie ’n kort proses nie,” sê sy.

Siphiwe Dlamini, woordvoerder van die departement van verdediging, wou nie “bespiegel” oor wanneer die dokumentasie vir die ontplooiing afgehandel sal wees nie.

“Ek kan nie daaroor bespiegel nie. Sodra die papierwerk afgehandel is, sal ons dit aankondig. Ons wag vir die prosesse om afgehandel te word in welke geval dit dan in die Staatskoerant gepubliseer sal word.”

Khusela Diko, woordvoerder van pres. Cyril Ramaphosa, het nie op vrae rakende die ontplooiing van die SANW-troepe gereageer nie.

Meer oor:  Sanw  |  Bendegeweld  |  Weermag-Ontplooiing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.