Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Sasol, Solidariteit bereik nie ooreenkoms
Lede van Solidariteit het Donderdag betoog teen Sasol se nuwe bemagtigingskema, Khanyisa, wat net vir swart werkers bestem is. Foto: Simon Sonnekus

Sasol en die vakbond Solidariteit kon nie Donderdag ’n ooreenkoms bereik oor Sasol se nuwe bemagtigingskema, Khanyisa, wat net vir swart werkers bestem is nie.

Lede van Solidariteit het Donderdagoggend betoog by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) se kantoor in Johannesburg.

Die KVBA het in ’n mediasie-sessie probeer om die geskil tussen Sasol en Solidariteit oor die uitsluiting van wit werknemers te besleg.

Luidens ’n verklaring deur Solidariteit kon die twee partye geen ooreenkoms bereik nie en het die KVBA ’n sertifikaat aan Solidariteit toegestaan wat sy lede toelaat om wettig te staak.

Sasol het in 2017 bekend gemaak dat sy bestaande werknemerbemagtigingskema, Inzalo, met Khanyisa vervang gaan word, wat wit werknemers merendeels uitsluit.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het Donderdagoggend gesê die bemagtigingskema sal erge rassespanning veroorsaak en dat dit ’n nuwe laagtepunt in rasseuitsluiting is.

Luidens ’n verklaring deur Sasol is Khanyisa spesifiek ontwerp om die eienaarsaspek van breë gebaseerde swart ekonomiese bemagtiging (BGSEB) aan te pak en sluit die skema dus primêr swart werknemers in.

“As ’n verantwoordelike Suid-Afrikaanse korporatiewe burger, is dit Sasol se etiese plig om beslissende aksie te neem om die ongelykhede van Suid-Afrika se verlede reg te stel.

“Khanyisa, Sasol se nuwe BGSEB-eienaarskapstruktuur, is een van die sleutelfokusareas van die maatskappy se breër transformasiestrategie.”

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, spreek die betogers toe. Foto: Simon Sonnekus

Hermann sê egter Sasol vat transformasie te ver.

“Die bedoeling van transformasie kan nooit beteken dat wit mense eenvoudig uitgesluit word nie. Hoekom sal swart werknemers benadeel word as wit werknemers ook ingesluit word?

“Daar’s in Suid-Afrika die geloof dat alles onder die naam van transformasie geregverdig is. Transformasie troef nie alle ander regte nie.

“Die Grondwet kan nie uitgevoer word binne die raamwerk van transformasie nie, transformasie moet binne die raamwerk van die Grondwet toegepas word.”

Volgens Hermann kon geen skikking wat alle werknemers insluit Donderdag bereik word nie en “baan die sertifikaat wat die KVBA uitgereik het die weg vir wit werknemers om uit protes te staak teen blatante diskriminasie jeens lojale Sasol-werknemers”.

Sasol sê die sertifikaat beteken nie dat Solidariteit korrek is, of dat Sasol verkeerd is nie.

“Die KVBA-uitkoms beteken dat geen middeweg oor Khanyisa gevind kon word nie. Dit gee aan Solidariteit toestemming om arbeid te onttrek en veilig te betoog.”

Die partye sal op 4 Junie bymekaarkom om die reëls vir die staking te bepaal.

Meer oor:  Solidariteit  |  Sasol  |  Dirk Hermann  |  Ooreenkoms  |  Khanyisa  |  Werknemers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.