Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Sassa, Poskantoor is ‘reg vir uitbetalings’

Sassa sê hy is reg. Die SA Poskantoor (Sapo) sê hy is feitlik reg, maar Cash Paymaster Services (CPS) hys steeds rooi vlae en waarsku dat daar hierdie maand chaos gaan wees met die uitbetaling van maatskaplike toelaes.

In die pylvak van die omskakeling van sowat 10,8 miljoen ontvangers vanaf CPS se stelsel na die nuwe Sassa/Sapo-stelsel gáán daar egter tandekryprobleme wees. Presies hoeveel is die groot vraag.

Susan Shabangu, minister van maatskaplike ontwikkeling, het Vrydag op ’n mediavoorligtingsessie in Johannesburg volgehou dat daar dié keer nie dieselfde fiasko gaan wees as met die vorige ronde deur haar voorganger, Bathabile Dlamini, nie.

Dít het daartoe gelei dat die konstitusionele hof in Maart vanjaar genoodsaak was om CPS se kontrak met ses maande te verleng omdat geen voetwerk bestaan het om ’n alternatief vir dié verskaffer te vind nie.

CPS het op sy beurt gewaarsku dat 800 000 ontvangers wat nog die ou Sassa-kaarte by kontantbetaalpunte gebruik het, se besonderhede sonder om hom in kennis te stel deur Sassa van sy stelsels verwyder is. CPS kan dus nie in September, die laaste maand voor sy kontrak finaal verstryk, enige uitbetalings aan dié groep doen nie.

Die verskaffer het gesê dié groep gaan eenvoudig by betaalpunte weggewys word en dat hul onttrekkings by kitsbanke geweier kan word.

5,5 m kaarte is in Augustus uitgereik en 3,5 miljoen uitbetalings verwerk.

Maar Lindiwe Kwele, bedryfshoof van Sapo, sê egter slegs sowat 200 000 ontvangers het nog nie die nuwe goue Sassa-kaart gekry nie – nié 800 000 nie. Niemand se kaarte – oues of nuwes – sal geweier word nie.

Die Poskantoor het in sy omskakeling in Augustus 5,5 miljoen kaarte uitgereik en 3,5 miljoen uitbetalings verwerk. Vergeleke met Julie se 15 betalings per sekonde kon sy betalingstelsel tot 200 betalings per sekonde hanteer.

Sapo beoog om in September 5,5 miljoen uitbetalings te hanteer voordat hy van Oktober die stelsel in sy geheel moet bedryf.

Angie Richardson, woordvoerder vir die Black Sash, wat saam met ’n toesighoudende paneel van kundiges die omskakeling moniteer, sê daar gaan noodwendig aanvangsprobleme wees.

Banke het laat weet dat daar ’n enorme toename was van ontvangers wat bankrekenings oopgemaak het om eerder só hul geld by kitsbanke te kry as in kontant of by die Poskantoor.

“Die ou kaart kan tot Desember gebruik word. Enigiemand wat dus met die ou kaart kontant by die gewone betaalpunte gaan aanvra, sal dit steeds kan doen,” sê Richardson. Sapo kan ook dié uitbetalings behartig.

Intussen bemark CPS sy eie groen Easy Pay-kaart.

Kgomoco Diseko, woordvoerder vir Sassa, het bevestig dat onkundige ontvangers deur verteenwoordigers van Easy Pay mislei word deur aan hulle voor te gee dat dié kaart net so goed soos die goue kaart is.

Volgens Diseko is net laasgenoemde verskans teen enige onregmatige aftrekkings, wat in die verlede ontvangers se toelaes verorber het sonder dat hulle besef het waarvoor dit was. Géén aftrekkings mag op die goue kaart gedoen word nie.

Black Sash se verslag bevestig dat die agente ontvangers doelbewus weglok wanneer hulle hul kaarte wil gaan omruil om eerder die groen kaart te neem.

Die optrede van die agente is volgens Sassa ’n laaste verbete poging van CPS om steeds sy hande op weerlose ontvangers van toelaes se geld te kry.

Net1, die beherende groep van CPS, se finansiële state toon dat sy verdienste weens die verlies van die Sassa-kontrak die afgelope jaar met 48% gedaal het.

Meer oor:  Sassa  |  Uitbetalings  |  Maatskaplike Toelaes  |  Poskantoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.