Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
SAUK gooi eie regering ‘onder die trein’

Jackson Mthembu, minister in die presidensie, sê die SAUK het sy eie regering “onder die trein ingegooi” toe hy ’n verkeerde opname van pres. Cyril Ramaphosa se boodskap oor gendergeweld uitgesaai het.

Mthembu het Donderdag ná die tweeweeklikse kabinetsvergadering by ’n inligtingsessie in Kaapstad geantwoord op ’n vraag deur ’n SAUK-joernalis oor dié kwessie. Hy het gesê hy was “baie seergemaak” oor die voorval.

Jackson MthembuFoto: DAILY SUN

“Ek het baie sleg gevoel omdat ek geduldig gewag het vir my president om met die nasie te praat oor baie belangrike kwessies – die moord op vroue deur mans en aanvalle op buitelanders en mede-Suid-Afrikaners deur sommige in die land. En wat doen die SAUK – of sommige mense in die SAUK? Hulle maak ’n grap daarvan. Ja. Dit is hoe hy (Ramaphosa) geklink het.

“Selfs al wou julle met ons as regering of die president afreken, waarom daarop besluit tydens dié belangrike kwessies? Ek het gedink julle kon dit op ’n ander tyd gedoen het. Nie tóé nie.”

Hy het gesê hy het na ’n ander kanaal oorgeskakel wat die regte boodskap uitgesaai het en het besef net die SAUK het gefouteer.

“Hoe kon die SAUK die regte beeldmateriaal aan almal anders gee en hulle gebruik die verkeerdes? Ons was baie seergemaak,” het Mthembu gesê.

Die SAUK het twee weke gelede, ’n dag ná die uitsending, bevestig dat hy sterk prima facie-bewyse het dat die verkeerde uitsending “opsetlike sabotasie” was.

Drie vaste personeellede en ’n vryskutwerker is ná die voorval deur die SAUK geskors.

Dié kwessie hoort nou volgens Mthembu tot die verlede en daar moet nou gefokus word op die beëindiging van geweld en moorde op vroue en kinders.

Die kabinet het ’n beroep op alle gemeenskappe gedoen om seuns te mentor om empatie en respek vir vroue en meisies te hê.

Die kabinet is ook vasbeslote om aandag te gee aan die onderliggende redes agter die aanvalle op buitelanders en sommige Suid-Afrikaners.

Ramaphosa het vroeër weens die geweld ’n span spesiale gesante na sewe Afrika-lande gestuur en het aangekondig dat die voormalige presidente van Tanzanië en Mosambiek ’n feitesending in Suid-Afrika sal lei oor die geweld.

Die aanvalle op raadslede se huise in Noordwes is ook ten sterkste deur die kabinet veroordeel.

* ’n Spesiale kabinetsvergadering is ook Donderdag gehou waartydens Tito Mboweni, minister van finansies, se ekonomiese groeiplan bespreek is. Meer as 700 voorstelle is reeds daarvoor ontvang.

Meer oor:  Sauk  |  Pres. Cyril Rama­Phosa  |  Jackson Mthembu  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.