Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
SAUK-joernaliste ‘hoef nie bang te wees’

Die SAUK-vier Dinsdag in die arbeidshof: Foeta Krige,,Suna Venter,Krivani Pillay en Jacques Steenkamp. Foto: Felix Dlangamandla

Een ding wat die SAUK se joernaliste nou moet weet, is dat hulle nie bang hoef te wees nie.

So sê Foeta Krige, een van vier joernaliste wat weer in sy pos by die openbare uitsaaier aangestel moet word ná ’n bevel van die arbeidshof Dinsdag.

Agt joernaliste is verlede week deur die SAUK afgedank.

“Ek hoop dat die mense in die nuuskantoor nou gaan besef dat hulle nie nodig het om bang te wees nie. Mense hoef nie in hoekies te staan en fluister nie,” het Krige aan Nertwerk24 gesê kort nadat die arbeidshof in Johannesburg onder meer bevind het dat sy afdanking, asook dié van Krivani Pillay, Suna Venter en Jacques Steenkamp, onwettig was.

“Die Grondwet beskerm ons, die perskode beskerm ons, die redaksionele kodes beskerm ons,” sê Krige, uitvoerende regisseur van Monitor en Spektrum op RSG.

Foeta Krige, Krivani Pillay, Thandeka Gqubule, Suna Venter en Jacques Steenkamp vier die arbeidshof se uitspraak Dinsdag voor die hof in Johannesburg. Foto: Felix Dlagamandla

Vir hom is dit nou tyd om terug te gaan werk toe om die druk op sy kollegas te help verminder en om voort te gaan om “die waarheid uit te saai”.

Kort ná die uitspraak Dinsdagoggend het die trane vlak in sy oë gelê, veral toe daar na sy dogters Dalaine en Jamaine Krige se ondersteuning verwys is.

Jamaine het gesê sy is nie net trots daarop om ’n joernalis te wees nie, maar ook “trots daarop om Foeta Krige se dogter te wees”.

Jamaine en Dalaine was sedert hul pa se skorsing prominente stemme wat uitgepraat het oor wat met hul pa en sy kollegas gebeur het.

Dit was egter nie net Krige wat emosioneel op die uitspraak gereageer het nie.

Pillay het van oor tot oor geglimlag en gelag terwyl sy die een oproep na die ander gemaak het.

Sy sê sy kan nie wag om terug te gaan werk toe nie. Sy is ook nie bekommerd dat haar werksomstandighede vir haar sleg gaan wees nie.

“Ek het nie ’n vyandige omgewing verlaat nie; ek behoort dus nie na een terug te keer nie,” sê Pillay.

Volgens haar het die debakel ’n “massiewe emosionele impak op haar gehad”.

Steenkamp sê hy is baie bly om terug te gaan werk toe.

“Die vraag is egter of ons toegelaat gaan word om Woensdag terug te gaan werk toe, want die SAUK kan natuurlik appelleer. Die uitspraak wat in ons guns was, is natuurlik ’n oorwinning vir ons en ons kollegas by die werk. Dit beteken hulle kan opstaan teen sensuur en hulle kan daarmee wegkom,” het Steenkamp gesê.

Venter voel dié pad is een wat nog baie ver van klaar af is omdat die skade aan die nuuskantoor self onherstelbaar is. Sy verwys na die SAUK-8 se hofstukke wat by die konstitusionele hof ingedien is en waarin daar hierna verwys word.

“Die eensgesindheid wat in ’n stadium in die nuuskantoor bestaan het, is nie meer daar nie. Ons gaan terug na ’n gebroke nuuskantoor en dit gaan baie tyd vat om hom te herstel,” sê Venter.

“Ek glo nie die vier van ons kan dit alleen doen nie. So dit is een van my groot bekommernisse: hoe ons hierdie skip gaan omdraai. Jy weet ’n skip vat lank om om te draai,” voeg sy by.

Vir haar is daar “ ’n klomp goed” wat struktureel verkeerd is met die SAUK, en dít is wat die saak wat die SAUK-8 in die land se hoogste hof wil voer juis so belangrik maak.

“Ons is vasbeslote om die saak in die konstitusionele hof te voer sodat ons ’n blywende, permanente verskil kan maak aan die organisasie sodat hierdie tipe ding nie weer kan gebeur nie.”

Vir eers is haar grootste prioriteit, net soos vir die res, om Woensdag terug te gaan om haar werk te gaan doen en oor die komende verkiesing te berig.

* Kaizer Kganyago, SAUK-woordvoerder, kon nie Dinsdag sê of die SAUK teen die uitspraak gaan appelleer en of die joernaliste toegelaat gaan word om Woensdag terug te keer werk toe nie, aangesien die uitspraak glo nog deur die SAUK se regspan bestudeer word.

Meer oor:  Hof  |  Sauk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.