Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘SAUK praat snert oor verkeerde uitsending’

Politieke ontleders sê dis ’n swaar pil om te sluk dat werkers by die SAUK glo hul messe uit het vir pres. Cyril Ramaphosa en sy toespraak gesaboteer het.

Die SAUK het Dinsdag drie van sy werknemers geskors en ’n vryskutwerker in die pad gesteek weens die verkeerde uitsending landwyd van Ramaphosa se toespraak oor geslagsgegronde geweld verlede week.

Die SAUK het Dinsdag drie van sy werknemers geskors en ’n vryskutwerker in die pad gesteek weens die verkeerde uitsending van pres. Cyril Ramaphosa se geslagsgeweld-toespraak.Foto: Facebook

Die SAUK het  in ’n verklaring bevestig dat die verkeerde uitsending glo opsetlike sabotasie was.

In ’n verklaring sê die openbare uitsaaier diegene wat by die produksieproses van die uitsending betrokke was, is almal vooraf gewaarsku dat hulle die toets-video moes ignoreer.

“Die SAUK het sterk prima facie-getuienis dat die uitsending van die verkeerde opname ’n gekoördineerde daad van sabotasie was om die SAUK en vir pres. Ramaphosa in ’n slegte lig te stel.”

Maar Theo Venter, politieke ontleder en beleid-spesialis by die Noordwes-Universiteit se besigheidskool, sê hy glo nie ’n woord van wat die SAUK nou probeer voorgee gebeur het nie.

“Vir my is dit eenvoudige onnoselheid en onbeholpenheid. Nou skuil hulle agter sabotasie. In Suid-Afrika het geslagsvooroordeel, rassevooroordeel en die derde mag, beter bekend as sabotasie, die maklikste verskonings geraak om swak bestuur weg te steek.

“Een of ander ou het nie opgelet wat op die videogreep gestaan het nie, dié lyk soos ’n fout in plaas van sabotasie. Dit is ongelukkig net ’n poging om weg te kruip agter onbeholpenheid.”

Venter sê terwyl die president self niks kan doen nie, kan hy wel die minister wat hy aangestel het om die SAUK reg te ruk vra om die kwessie met die SAUK-raad te bespreek.

“Dis pure bog, loutere snert en ek dink dit is ook sommer ’n geleentheid om onbeholpenheid weg te steek,” sê Venter.

“Ongelukkig is daar mense wat selfs glo dat die xenofobie-aanvalle ’n gestruktureerde poging is om die president te na te kom. En as daar een ding is wat ek nie glo nie, dan is dit samesweringsteorieë.”

Of daar wel messe uit is vir Ramaphosa, sê Venter die SAUK se weergawe van gebeure beteken dat daar “iemand binne die ANC is wat by die SAUK werk, wat die vermoë het om die president te saboteer.

“Ek hou vol dis ’n flou verskoning.”

Die politieke ontleder dr. Ralph Mathekga sê die hele aangeleentheid is so vergesog, dat dit verregaande is om te dink dat mense binne die SAUK so iets sou doen.

“Dit blyk of dit die produksiespan is, wat mense op die nuusvloer is, en as hulle beïnvloed word deur politiek, dan is dit baie hartseer en teleurstellend,” sê Mathekga.

Hy sê indien dit wel bewys word dat SAUK-werknemers die president probeer saboteer het, sal dit nie net hartseer en neerdrukkend wees nie, maar ook skokkend.

“Die vraag bly egter wat dit die produksiespan sou baat om die president te saboteer. Dit maak net nie sin nie.”

Ramaphosa se woordvoerder, Khusela Diko, het teen publiseringstyd nie navrae beantwoord nie.

Meer oor:  Sauk  |  Pres. Cyril Ramaphosa  |  Verkeerde Uitsending  |  Toespraak  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.