Die SAUK gaan die proses waarvolgens soveel as 400 van sy personeel afgelê kan word, tydelik staak.
Vir die volgende sewe dae gaan die partye na “ander opsies” kyk.
Mmoni Seapolelo, waarnemende SAUK-woordvoerder, het aan Netwerk24 bevestig die SAUK-raad en die SAUK gaan die art. 189-afleggingsproses vir sewe dae staak.
“Dit sal die betrokke partye ’n geleentheid gee om te praat en na ander opsies te kyk, sodat die finansiële stabiliteit van die SAUK verseker kan word.”
Seapolelo sê die SAUK is daartoe verbind om met al die rolspelers te praat, terwyl pogings voortduur “om die openbare uitsaaier finansieel volhoubaar te maak sodat hy aan sy mandaat kan voldoen”.

’n Betoger Donderdag voor die SAUK se kantoor in Seepunt, Kaapstad. Foto: Gallo Images
Die SAUK het vandeesweek aangekondig dat hy 400 van sy 3 000 personeellede gaan aflê om koste te besnoei.
Die openbare uitsaaier het in 2019 ’n reddingsboei van R3,2 miljard van die staat gekry op voorwaarde dat hy sy uitgawes besnoei.
Die art. 189-briewe wat aan die werkers gegee is, is reeds Dinsdagmiddag ná vurige vergaderings en dreigemente van staking teruggetrek.
Van die SAUK se werknemers het Dinsdag buite die uitsaaier se kantore in Auckland Park, Johannesburg, met protesoptrede begin.
Oor die nuus dat 12 uit die 14 permanente werknemers van die Afrikaanse radiostasie RSG briewe gekry het, het die stasiebestuurder, Magdaleen Kruger, Donderdag vure probeer doodslaan deur te sê die betrokke personeel gaan kans kry om aansoek te doen vir nuwe poste.
“Die vyf vaste omroepers, Martelize Brink, Haidee Muller, Johan Rademan, Jacqui January en Fritz Klaaste, sal steeds op RSG gehoor word, maar ons sal met hulle gesels oor vryskutkontrakte.
“Ek sê weer: RSG gaan nie sy deure sluit nie. Hy gaan uitbrei. Dit is ook nie ’n aanval op Afrikaans of ’n bepaalde kultuurgroep nie.
“Afrikaans se stem op radio word nie bedreig nie,” het sy benadruk in haar onderhoud op die aktualiteitsprogram Spektrum wat op RSG uitgesaai word.
LEES OOK: ‘RSG sluit nie – dis fopnuus’
Die Suid-Afrikaanse Redakteursforum (Sanef) sê 700 mediawerkers het reeds hul werk verloor sedert die ramptoestand op 23 Maart afgekondig is om die koronaviruspandemie hok te slaan.