Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
SAUK: Vakbond eis antwoorde oor Junie-salarisse

Vakbonde eis ’n “dringende vergadering” met die SAUK-direksie oor wat gedoen word om personeel se salarisse vir Junie te verseker.

Bongumusa Makhathini, voorsitter van die SAUK-direksie Foto: Argief

Die uitsaaier, wat 18 radiostasies en vier televisiekanale bedryf, het die tesourie vir ’n reddingsboei van R3,2 miljard gevra. Die geldelike krisis by die SAUK is so erg dat daar kommer is of hy sy personeel en diensverskaffers teen die einde van die maand kan betaal.

Die kommunikasiewerkersvakbond CWU en die mediawerkersvakbond Bemawu, het Dinsdag in ’n gesamentlike brief aan die SAUK se bestuur daarop aangedring om op hoogte gebring te word van sy aansoek om ’n staatswaarborg.

“As georganiseerde arbeid by die SAUK is ons diep besorgd en ontevrede oor die manier waarop werknemers deur die SAUK se direksie hanteer word. Ons, as georganiseerde arbeid, het die naweek vanuit die media verneem dat die sogenaamde Dag Zero aangebreek het en dat werknemers moontlik nie teen die einde van Junie salarisse sal ontvang nie,” lui die brief.

Die brief, gedateer 18 Junie, is onderskeidelik deur Hannes du Buisson, woordvoerder van Bemawu, en Aubrey Tshabalala, hoofsekretraris van CWU, onderteken.

Albei vra om ’n “dringende vergadering” met die SAUK-direksie voor die einde van die week.

Die nasionale tesourie, wat die laaste sê het daaroor of die SAUK uit sy geldelike verknorsing gered sal word, het Dinsdag gesê die uitsaaier se aansoek om hulp word nog oorweeg.

As georganiseerde arbeid by die SAUK is ons diep besorgd en ontevrede oor die manier waarop werknemers deur die SAUK se direksie hanteer word.
'n Brief

“Die tesourie het ’n versoek om ’n staatswaarborg vir R3,2 miljard ontvang. Die versoek word steeds oorweeg,” het die tesourie se media-afdeling per e-pos aan Netwerk24 bevestig.

Vuyo Mthembu, woordvoerder van die SAUK, sê dit is nie “tans moontlik” vir die uitsaaier om kommentaar te lewer nie.

Bongumusa Makhathini, voorsitter van die direksie, het volgens die Sunday Times aan hulle gesê dat die uitsaaier in Mei moes kies tussen personeel se salarisse en sy munisipale rekeninge. Die keuse was vir salarisse.

Die SAUK skuld die Johannesburg-metro meer as R13,5 miljoen, die seinverspreider Sentech R317 miljoen en SuperSport, ’n afdeling van MultiChoice, R208 miljoen.

Nomvuyiso Batyi, waarnemende direkteur-generaal van die kommunikasiedepartement, was nie Dinsdag vir kommentaar beskikbaar nie.

Meer oor:  Sauk  |  Bongumusa Makhathini  |  Vakbonde  |  Salarisse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.