Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
SAUK verloor geveg oor gratis TV-sport

Uitsaairegulasies wat betaalkanale sou dwing om “sportbyeenkomste van nasionale belang” verniet uit te saai, is van die baan ná klagtes van veral groot sportliggame dat dit hulle finansieel sal ruïneer.

Betaalkanale soos SuperSport was ook erg gekant teen die voorgenome regulasies van die Onafhanklike Kommunikasieowerheid (Okosa) wat die hoeveelheid eksklusiewe inhoud wat ’n uitsaaier kan aankoop sou beperk.

Okosa het op 31 Maart wysigings aan sy sportuitsendingsregulasies gepromulgeer waarin die owerheid dit uitdruklik stel dat die aankoop van eksklusiewe uitsaairegte van sportgeleenthede nie onwettig is nie, solank as wat hierdie eksklusiewe regte nie verhoed dat nasionale sportgebeure op kanale van die openbare uitsaaier, die SAUK, verniet uitgesaai kan word nie. Dit is ’n ommeswaai van ’n oorspronklike konsepregulasie wat in November 2020 gepubliseer is waarin Okosa uitsaaiers wou dwing om sekere sportbyeenkomste verniet uit te saai. Die Uitsaaiwet stel Okosa in staat om verreikende regulasies soos dié uit te vaardig wat bindend is vir alle uitsaaiers

Sport oorleef vanweë uitsaairegte.

Die konsepregulasies wat vir die eerste keer in 2018 gepubliseer is, was klaarblyklik daarop gemik om MultiChoice en sy SuperSport-kanale se “monopolie” op sportuitsendings in die land te breek. Dit het vrese laat ontstaan dat sportliggame hul grootste bron van inkomste, TV-uitsaairegte, sou moes prysgee sodat die openbare uitsaaier, die SAUK, verniet nasionale sport kon uitsaai.

In die openbare raadplegingsproses oor die regulasies in 2019 het sportliggame ook onder die SAUK ingeklim. Volgens Netbal Suid-Afrika het die SAUK tussen 2005 en 2008 die uitsaairegte besit om netbal regstreeks uit te saai, maar dit nie een keer gedoen nie. Sedert SuperSport die regte besit, is netbal gereeld uitgesaai, wat Suid-Afrikaanse netbal in staat gestel het om semiprofessioneel te word – en die land gaan in 2023 gasheer speel vir die Wêreldbeker.

Die land se grootste drie sportliggame, rugby, krieket en sokker, het dit ook aan Okosa duidelik gemaak dat hul voorgenome regulasies die sportsoorte tot in die graf sal help.

Krieket Suid-Afrika (KSA) se inkomste bestaan 69% uit uitsaairegte, en die beheerliggaam het in ’n skriftelike voorlegging gesê as dié regulasies in werking tree, en die SAUK nie ’n premiumprys vir die uitsaairegte kan betaal nie, KSA se bestaan in gedrang is.

Jurie Roux, uitvoerende hoof van SA Rugby, het namens die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) gesê die unie se deure sal binne vyf jaar sluit as Okosa sy planne deurvoer: 57% van rugby se inkomste kom van uitsaairegte.

Altesaam 80% van die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) se inkomste het uit uitsaairegte bestaan, met ’n voorbeeld wat voorgehou is waar die SAUK slegs R10 miljoen wou betaal vir die uitsaai van Bafana Bafana-wedstryde terwyl die regte R110 miljoen werd was.

Die SAUK is egter nie tevrede met die nuwe regulasies nie en beskou dit as kommerwekkend.

“Die SAUK neem verder kennis dat sy insette (in die openbare deelnameproses) glad nie verreken is in die gewysigde regulasies nie,” het Mmoni Seapelo, waarnemende SAUK-woordvoerder, by navraag gesê. Die SAUK het staatgemaak op ’n verbod op die beperking van die eksklusiewe inhoud wat SuperSport kon aankoop omdat die SAUK nie finansieel met die betaalkanaal kan meeding nie.

Die SAUK het gehoop deur toegang te kry tot sekere sportgebeurtenisse, hulle eindelik advertensie-inkomste kon opbou om met SuperSport mee te ding omdat hul kanale veel meer mense as SuperSport bereik.

Die SAUK meen sy kykers van die Duitse sokkerliga, die Bundesliga, waarvan die SAUK uitsaairegte besit, is meer as SuperSport se kykers vir die Engelse Premierliga.

Okosa meen egter dit sou “drakonies” wees om enige uitsaaier te beperk.

Meer oor:  Supersport  |  Sauk  |  Multichoice
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.