Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Secunda: ‘Ons sal nooit weet of verstaan nie’
Henko Naudé, Lizelle van Naudé, André Naudé
Henko Naudé (17), ’n gr. 12-leerling van die Hoërskool Secunda in Mpumalanga, saam met sy ouers, Lizelle (52) en André (50). Foto: Facebook/Lorraine van der Merwe

“Ons sal nooit weet of verstaan hoekom nie.”

Só sê Marietha Mare, ’n jare lange vriendin van die gesin van Secunda in Mpumalanga wat Vrydag in ’n gesinstreurspel uitgewis is.

Mare sê sy is steeds geskok oor haar boesemvriendin, Lizelle Naudé (52), en haar gesin, wat welbekend was in die dorp, se skietdood.

André Naudé (50) het vermoedelik Donderdagnag of in die vroeë ure van Vrydag eers sy ma, Tina Naudé (83), doodgeskiet voordat hy Lizelle en toe hul gestremde seun, Henko (17), geskiet het.

Tina, Lizelle en Henko het al drie ’n enkele skoot in hul linkerslaap gehad waar hulle in hul beddens gelê het.

Lizelle Naudé (52), ’n onderwyseres van Secunda in Mpumalanga, en haar man, André (50). Foto: Facebook/Lorraine van der Merwe
Wat sê ’n mens? Ons harte is stukkend, julle het diep spore in ons harte gelaat, wat vir ewig daar sal wees.

André het homself daarna in ’n badkamer van die huis met ’n 9 mm-pistool in die mond geskiet. Hy het by ’n maatskappy gewerk wat swaar voertuie en masjinerie verkoop.

Die Naudés het Kersfees by Lizelle se broer Roelof van der Merwe en sy vrou, Lorraine, in Vaalwater, Limpopo, gekuier.

Lorraine het foto’s van ’n oënskynlik gelukkige Kerstyd op haar Facebookblad gedeel. “Wat sê ’n mens? Ons harte is stukkend, julle het diep spore in ons harte gelaat, wat vir ewig daar sal wees.”

Sy sê Lizelle, wat op Kersdag verjaar het, “was ’n juweel in my hart, want dit is wie en wat sy vir almal was”.

By ’n foto van André skryf sy: “Andrétjie, ek is jammer dat jy soveel van die lewe se druk moes dra. Jy was ’n pappa en ’n man uit ’n miljoen. Sal julle nooit vergeet nie.”

Andries Lee, bedryfshoof van Roman Alarms, sê hy het Vrydag om 09:05 by die gesin se huis in Constantiastraat aangekom nadat hulle gebel is om te gaan ondersoek instel omdat Lizelle die oggend nie opgedaag het nie by die Marietjie-sentrum vir kinders met gestremdhede, waar sy ’n onderwyseres was.

André Naudé (50) en sy ma, Tina (83). Foto: Facebook/Lorraine van der Merwe

Volgens hom is André in ’n plas bloed in die badkamer gekry waar hy op die vloer met sy rug teen die toilet gesit het.

“Die bure het nie skote gehoor nie. Die honde in die buurt het net ná middernag baie geblaf,” sê Lee. Die huis was baie netjies.

Mare sê die gesin se dood is vir haar baie swaar.

“ ’n Mens verstaan nie hoekom nie.”

Sy en Lizelle was bykans 30 jaar lank vriende en het verlede week nog saam koffie gedrink.

Henko het aan spierdistrofie gely en het Woensdag met sy matriekjaar aan die Hoërskool Secunda begin.

“Hy was akademies briljant en begaaf. Van kleins af kon ’n mens hom nie vasvra met wiskunde nie,” sê Mare. Henko het aan die einde van sy gr. 11-jaar 98% vir alfa-wiskunde behaal.

Dié skrander seun kon egter weens die spierdistrofie niks vir homself doen nie.

Lizelle en André moes hom voer, bad, aantrek. Hulle het alles vir hom gedoen.
Henko Naudé (17), ’n spierdistrofielyer van Secunda in Mpumalanga, by sy ouers, André (50) en Lizelle (52).Foto: Facebook/Lorraine van der Merwe

“Lizelle en André moes hom voer, bad, aantrek. Hulle het alles vir hom gedoen,” sê Mare.

Volgens haar het Henko se toestand “die heeltyd agteruitgegaan”.

Spierdistrofie is ’n ongeneeslike siekte en ’n genetiese toestand wat gekenmerk word deur progressiewe spierverswakking en kwynende spiermassa.

Lizelle word deur vriende beskryf as iemand wat “altyd gelag het en altyd gekyk het waar sy ander kon help”.

“Sy het ’n hart van goud gehad en was ’n inspirerende mens wat altyd geglimlag het. Sy was trots op haar seun en hy was vir seker ’n vegter,” sê Jurene Kemp.

Volgens Mare het Henko se siektetoestand, asook die versorging van Tina sy tol begin eis op Lizelle.

“Dit was moeilik vir haar. Boonop is haar ouers onlangs dood en dit was vir haar traumaties.”

Ansa Lange, ’n traumaberader en leefstylafrigter van Bloemfontein, sê dit is onmoontlik om presies te sê wat tot die tragedie gelei het.

“Dit is duidelik dat die pa se rasionele denke en emosies totaal afgestomp was. Dit is noodsaaklik om hulp te kry wanneer ’n mens voel jou lewe het nie meer sin nie en jy hoop in jou toekoms verloor het,” sê Lange.

Gabisile Shabalala, LUR vir gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, het haar skok oor die Naudés se dood uitgespreek.

“Mense moet hulp kry en moenie waarskuwingstekens ignoreer nie.”

Dié boodskap is op die Hoërskool Secunda se Facebookblad gedeel ná die skietdood van Henko Naudé, ’n matriekleerling aan die skool. Foto: Facebook/Hoërskool Secunda

Die Hoërskool Secunda het op sy Facebookblad by ’n foto van Henko geskryf: “Ons is hartseer en verslae oor een van ons leerlinge se dood.”

Kapt. Gerhard Elmes, polisiewoordvoerder in Secunda, sê lykskouings sal vandeesweek op die gesin gedoen word.

Ben Naudé, André se broer, wat ook in Mpumalanga woon, wou Sondag nie oor die tragedie praat nie. Die Naudé’s se jackrussell, wat tot laat Vrydag nog by hul huis was, is nou by hom.

Geen begrafnisreëlings is bekend nie.

  • Vir hulp bel die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag) se tolvrye nommer by 0800 456 789.
Meer oor:  André Naudé  |  Secunda
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.