Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Seks, rassisme en gebede by Bosasa

Gavin Watson, die voormalige uitvoerende hoof van Bosasa, was ’n opperste rassis wat na sy swart kollegas as “k*****s” verwys het en gesê hy stel hulle net aan “omdat hulle dig is en ek hulle kan beheer”.

Bosasa het minstens twee van oudpres. Jacob Zuma se private partytjies in Durban geborg. Hier dans Zuma in April 2015 terwyl Gavin Watson toekyk. Foto's: Uit ‘Blessed by Bosasa’

Verder was die vrome Watson, wat hoog opgegee het oor hoe ’n groot Christen hy was, ’n uiterste boelie wat genot daaruit geput het om werknemers te beledig en te verkleineer. Tog het hy gekruip voor sy manipulerende minnares wat op sy kop gesit het en voor sy kollegas op hom gevloek het.

In ’n nuwe boek deur die onder­soekende joernalis Adriaan Basson, Blessed by Bosasa: Inside Gavin Watson’s State Capture Cult, word onthul hoe Watson sy sakeryk gebou het op leuens, manipulasie en bedrog en hoe hy deur die betaal van miljoene rande in omkoopgeld verseker het dat regeringstenders ter waarde van miljarde rande na sy maatskappye oorgedra word.

Watson is in Augustus in ’n motorongeluk net buite die O.R. Tambo-lughawe dood nadat sy eens magtige sakeryk reeds in likwidasie was midde-in ’n wydlopende ondersoek na Watson se misdrywe.

Gouws het ’n buitengewone houvas op Watson gehad en hy het haar amper nooit bevraagteken nie. Sy het na haarself verwys as die ‘bruid van Christus’ en werknemers het na haar verwys as ‘mev. Watson’ of die ‘grootbaas se cherry’.

In sy boek onthul Basson onder meer:

  • Hoe Watson die ANC-vroueliga mislei het deur hulle te laat glo dat hulle die maatskappy besit, terwyl Watson in werklikheid die eienaar was.
  • Dat Watson foto’s van Basson en Willie Hofmeyr, voormalige hoof van die spesiale ondersoekeenheid (SOE), gehad het en dat hy dié twee geseën en vir hulle gebid het. Hy het selfs ’n wit kruis met ’n foto van Hofmeyr in sy tuin gehad.
  • Hoe wyle Vernie Petersen, voormalige hoof van korrektiewe dienste, deur Ngconde Balfour, destydse minister van korrektiewe dienste, van sy amp onthef is nadat Petersen vrae begin vra het oor Bosasa se tenders vir die departement. Petersen het vir sy lewe gevrees en het ’n gebroke man gesterf.
  • Nomvula Mokonyane, wat deur pres. Cyril Ramaphosa afgedank is en nou in Luthuli-huis werk, was “soos ’n werknemer by Bosasa” en Watson het verwag dat personeel “alles laat vaar” as sy enige eise stel.

Basson het in Februarie voor die Zondo-kommissie getuig hoe hy self gedreig is terwyl hy en sy kollega Carien du Plessis die korrupte tenders ondersoek het wat Bosasa met die departement van korrektiewe dienste gehad het. Hy onthul ook dat daar planne was om hom “te elimineer” en hom na ’n gevangenis in Zimbabwe of Zambië te stuur.

Lindie Gouws

Basson skryf dat Watson se lewe ver verwyderd was van die vrome Christen wat hy voorgegee het om te wees. Onder Bosasa-werknemers was dit ’n ope geheim dat hy ’n buite-egtelike verhouding gehad het met ’n voormalige joolkoningin, Lindie Gouws.

Volgens senior Bosasa-werknemers en voormalige Watson-kollegas het Gouws ’n buitengewone houvas op Watson gehad en hy het haar amper nooit bevraagteken nie.

Sy het na haarself verwys as die “bruid van Christus” en werknemers het na haar verwys as “mev. Watson” of die “grootbaas se cherry”.

Sy het blykbaar by Watson in ’n kompleks in Krugersdorp gewoon. Haar onderklere het op sy wasgoedlyn gehang, haar motor was gedurig buite sy huis terwyl hy halfkaal net in sy onderbroek rondgeloop het. Hy het ook saam met haar inkopies gedoen. Sy badkamer was ook vol van haar skoonheidsmiddels.

Sy het ’n seksuele verhouding met Watson teenoor Basson ontken en gesê gerugte hieroor is “doelbewus” in die Bosasa-kantore versprei. “Mense het ’n verdraaide beeld (van ons verhouding),” het sy gesê.

Gouws was egter baie invloedryk in die onderneming, volgens Basson. Watson word beskryf as “dominerend” en “vurig”, behalwe in sy verhouding met Gouws.

‘Almal weet jy’t ’n verhouding.’

Denise Bjorkman, ’n voormalige senior Bosasa-werknemer, het aan Basson vertel dat Gouws vir Watson “enige s****t kon vertel en hy sou haar glo”. Sy was besorg oor die “houvas” wat Gouws op Watson gehad het, en sowel sy as Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa, het gesien hoe die luidrugtige, afknouerige en ge-Botoxde uitvoerende hoof van Bosasa voor Gouws gekruip het.

Basson skryf oor ’n voorval waartydens Gouws haar motorsleutels na Watson gegooi en vir hom geskreeu het: “Waar is my f****n wasgoed?”

Agrizzi het ook vertel van ’n telefoongesprek waar Watson die hele tyd gedwing was om “verskoning te vra hiervoor en verskoning daarvoor”. Agrizzi het Watson toe gevra wanneer “die s****t gaan ophou” en ’n Bybelversie oor owerspel aangehaal. Watson het toe aan Agrizzi voorgegee dat hy nie ’n verhouding met Gouws het nie. “Ek het vir hom gesê: ‘Jy het ’n verhouding, ek sê jou nou. Jy is die enigste hier wat dink jy het nie ’n verhouding nie. Almal f****n weet dit.”

Basson onthul ook besonderhede van mans in senior poste wat op vroulike personeel “jag maak”.

Een uitvoerende beampte het ’n yskas gekoop vir elke vrou met wie hy seks gehad het, terwyl ’n ander betrap is waar hy op die tafel in ’n raadsaal seks het. Skoonmakers het ook gekla oor die maatskappy se gastehuis op die Bosasa-perseel in Krugersdorp en “al die semen” wat werkoppervlakke, die vloer en beddens bevlek.

Watson word ook uitgebeeld as ’n boelie wat nie sou skroom om werknemers wat oorgewig is te verneder of na swart werknemers en kollegas as k*****s te verwys nie.

Hy het blykbaar aan Agrizzi en nog ’n senior werknemer, Retief van der Merwe, gesê: “Julle beter hierdie k*****s kry om in hul spoor te trap.”

’n Ander keer het hy gevra: “Waarom dink jy stel ek hierdie k*****s aan? Omdat hulle dom is. Hulle het niks tussen die ore nie. Hulle is dig en ek kan hulle beheer. Ek kan met hulle doen net wat ek wil, hulle het die geld nodig.”

* Lees ’n uittreksel uit Basson se boek hier.

Meer oor:  Gavin Watson  |  Adriaan Basson  |  Boek  |  Rassisme  |  Blessed By Bosasa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.