Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Seks vir werk en huise’ – DA eis ondersoek

Die DA wil hê die Kommissie vir Geslagsgelykheid moet ondersoek instel na bewerings dat daar van vroue in die Oos-Kaap verwag word om seks in ruil vir werksgeleenthede of behuising aan te bied.

Dit is veral die Oos-Kaapse departement vir openbare werke en sy uitgebreide openbarewerkeprogram (EPWP) wat die kommissie moet ondersoek, sê die DA.

Van links is Georgina Faldtman, voorsitter van die DA se vrouenetwerk, Dawn, in die Oos-Kaap, Nqaba Bhanga, premierskandidaat van die DA in die Oos-Kaap, en Nomafrench Mbombo, die DA se woordvoerder oor vroue en voorsitter van Dawn, Maandag op ’n mediakonferensie in Port Elizabeth. Foto: Lynn Williams

Die party beweer talle vroue het die slagoffer geword van dié praktyk ten einde ’n werkgeleenthede te bekom by die EPWP.

Nomafrench Mbombo, die DA se woordvoerder oor vroue en voorsitter van Dawn, die party se vrouenetwerk, Georgina Faldtman, voorsitter van Dawn in die Oos-Kaap, en Nqaba Bhanga, die DA se premierskandidaat vir die provinsie, het Maandag die media op ’n nuuskonferensie hieroor toegespreek.

Bhanga sê toe hy en Faldtman verlede jaar deur die Oos-Kaap getoer het, het hulle besef dié skokkende praktyk om seks te eis in ruil vir werk of behuising, kom al hoe meer voor.

Hy sê hulle is oor talle voorvalle ingelig waar kwesbare en desperate vroue hul lyf moes gebruik as hul CV.

Volgens Bhanga het vroue in veral Komani (Queenstown), Reeston in Oos-Londen, en in Nelson Mandelabaai hieroor gekla.

“Die vroue is te bang om na vore te kom om klagte in te dien. Hulle vrees vir hul lewe,” sê Bhanga.

In Komani het die DA-lede bewerings gehoor oor dié praktyk in die Enoch Mgijima-munisipaliteit.

“Drie jong vroue sê hulle moes seks hê met amptenare van die munisipaliteit in ruil vir HOP-huise.”

Bhanga sê hulle het ook gepraat met ’n vrou wat geweier het om dit te doen. Sy het nie haar huis gekry nie en dit is gegee aan iemand wat wel bereid was om met die amptenaar seks te hê.

Mbombo sê die probleem kom landwyd voor.

Die slagoffers moet besef hulle is uitgebuit deur mense wat hul kwesbaarheid misbruik het.
Nomafrench Mbombo, die DA se woordvoerder

Volgens haar wil die vroue nie klagte hieroor indien nie, want hulle voel vernederd, en ook omdat hulle uiteindelik tot die seks ingestem het.

“Die slagoffers moet besef hulle is uitgebuit deur mense wat hul kwesbaarheid misbruik het.”

Faldtman het melding gemaak van drie vroue in Missionvale in Port Elizabeth wat haar in hul vertroue geneem het hieroor.

Sy sê die vroue weier om klagte aanhangig te maak, ten spyte van haar pogings om hulle te oorreed.

Die DA sê as hy aan bewind kom in die land, sal hy dit ’n strafregtelike oortreding maak om seks te eis in ruil vir werk of behuising.

Meer oor:  Da  |  Oos-Kaap  |  Seks  |  Behuising
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.