Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Seksnetwerk ‘gaan één stap te ver’, sê skrywer

Die beweerde pornografie-sindikaat wat die skrywer van Christelike literatuur Martie Wessels van Warrenton in die Noord-Kaap glo met die dood dreig, blyk nou eerder ’n seksnetwerk te wees wat die groep se lede afdreig deur vals profiele van hulle op kitsafspraak-platforms te skep.

Elize van Swel en haar verloofde. Foto: Verskaf

Wessels wil ’n tweede klag indien nadat ene “Sloototter”, vermoedelik ’n groeplid, Dinsdagaand ’n vals profiel met haar naam en foto geskep het op ’n webtuiste vir geklassifiseerde advertensies, Locanto, wat ook ’n afdeling vir verhoudingsafsprake het.

Maar hoewel Elize van Swel van Pretoria, die eienaar van 22 konyne, ’n lid van dié groep en ander soortgelyke groepe is, is sy egter nie daarvoor verantwoordelik nie, sê mense wat haar persoonlik ken.

“Elize se hasies”, Van Swel se ondersteuningsgroep op WhatsApp, waar Wessels ook aanvanklik betrek is, bevat geen pornografie nie, net gereelde stemnotas en af en toe ’n inspirerende prentjie. Van Swel kan nie lees of skryf nie.

Netwerk24 is by die groep gevoeg en het die afgelope week ’n patroon opgemerk.

“Elizabeth . . . waar’s jy”, kan kort-kort op die groep gehoor word. Dit is een van talle stemnotas wat Van Swel oplaai. Elizabeth is, na verneem word, veronderstel om elke dag ’n stuk of tien kontakte by die groep te voeg. Daar is tans 73 lede op die groep. Gebruikers wat opgelaai word, verwyder hulself vinnig.

Elize is ’n gestremde persoon wat saam met haar verloofde in ’n woonwa woon. Sy teel met hasies en verkoop hulle aan ’n dierewinkel.

“Elize stuur die groep se skakel uit om nog mense daarheen te lok. Daar kom dus dikwels ongure karakters in wat dan walglike foto’s stuur,” sê een van die lede wat aktief by dié groep betrokke is.

Die groep is volgens hom gestig om vir Elize se 22 konyne geld in te samel “en om te gesels”. Hy wil nie sy naam bekend maak nie.

Hy meen dit is dalk hoe Wessels betrek is. “Iemand moes haar by die groep gevoeg het en toevallig het die ongure karakters op daardie oomblik die pornografie geplaas.

“Elize is nie tegnologies ingestel nie en skop dan die mense af, skep ’n nuwe groep en maak sommer een van húlle, die ongure karakters, die admin.”

Martie Wessels, skrywer van Christelike literatuur van Warrenton, wat glo gedreig word. Foto: Verskaf

Hy hou vol Van Swel is eintlik onskuldig.

“Elize is ’n gestremde persoon wat saam met haar verloofde in ’n woonwa woon. Sy teel met hasies en verkoop hulle aan ’n dierewinkel.

“My nommer is by die groep gevoeg, en ek het eers gedink die vrou is bitter snaaks, maar sy het in my hart ingekruip met haar ‘verkeerde’ uitsprake,” sê die rekenmeester.

Hy meen Wessels was moedswillig om Van Swel se foto en selfoonnommer op Facebook te plaas.

Wessels het ook foto’s van die lede wat haar glo dreig en afpers, op Facebook gelaai, tot groot ontsteltenis van sommige van die lede.

Hy is egter nie een van diegene wat haar met die dood dreig nie, sê hy.

“Elize is nie deel van daardie ander groepe nie. Daar is baie.”

Intussen wil Wessels nóg ’n klag indien omdat die aanvanklike lede wat haar afpers, nou ’n stap te ver gegaan het met haar vals advertensie op die webtuiste. Sy word nou deur die nag deur sekspeste met walglike voorstelle gepla, sê sy.

Meer oor:  Elize Van Swel  |  Martie Wessels  |  Warrenton  |  Pretoria  |  Pornografie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.