Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Selfdegeslag-verhoudings bestaan nie in ons oë’
Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk, tydens die sitting van die Algemene Sinode in 2019. Foto: Deaan Vivier

Selfdegeslagverbintenisse bestaan nie in die oë van die Goudland-sinode van die NG Kerk nie, sê ds. Johan Brink, die sinode se moderator.

Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die Algemene Sinode (AS), sê egter Goudland kan nie dié besluit op die gemeentes onder hom afdwing nie.

Die Goudland-sinode, wat bestaan uit 130 gemeentes in Gauteng en Noordwes, het vandeesweek op ’n sinodale bestuursvergadering besluit dat die AS se 2019-besluit nie op hulle van toepassing is nie.

Dié besluit deur die AS skep ruimte vir selfdegeslagverhoudings en -huwelike in die NG Kerk en bepaal dat gemeentes self kan besluit of hulle gay paartjies in die huwelik wil bevestig.

Ons het Dinsdag besluit dat ons die beleid van 2015 om nié selfdegeslagverhoudings te erken nie, sal toepas,

Brink sê egter hulle wil nie dié ruimte hê nie en het reeds ’n leergeskil met die AS daaroor verklaar.

“Ons het Dinsdag besluit dat ons die beleid van 2015 om nié selfdegeslagverhoudings te erken nie, sal toepas,” sê Brink.

Die Goudland-sinode het ná afloop van die sinodale vergadering van vandeesweek ’n verklaring aan al sy gemeentes uitgereik oor die drie besluite wat geneem en goedgekeur is:

  • Die sinode herbevestig die 2015-besluit en versoek gemeentes en leraars om dit toe te pas.
  • Die sinode beveel aan, ná uitklaring met die AS, dat die hele 2019-besluit aangaande selfdegeslagverbintenisse nie vir die Goudland-sinode geld nie en
  • Die sinode beveel aan, ná uitklaring met die AS, dat leraars en kerkrade nie nodig het om besluite oor selfdegeslagverbintenisse te neem nie, aangesien die AS self erken dat dié besluit nie vir die sinode-Goudland geld nie.

In die verklaring neem die sinode ook die standpunt in dat die Bybel verklaar dat die huwelik ’n heilige eenheid tussen een man en een vrou is.

“Die sinode verklaar dat alle seksuele verhoudinge buite die band van die huwelik, nie Bybels verantwoordbaar en aanvaarbaar kan wees nie,” lui die verklaring.

Die NG kerk Moreletapark in Pretoria het hom ook al sterk uitgespreek teen die AS se 2019-besluit.

Pieter Breytenbach, die kerk se hoofbedryfsbeampte, het Vrydag aan Netwerk24 gesê hoewel hy nie kommentaar kan lewer oor Goudland se verklaring nie, bly Moreletapark se standpunt dieselfde. “Selfdegeslagverbintenisse is volgens ons nie Bybels nie.”

Janse van Rensburg sê Goudland het die volste reg om standpunt teen selfdegeslagverbintenisse in te neem.

“Die 2019-besluit skep juis ruimte daarvoor. Ons het wel nooit gesê dat die 2019-besluit nie vir Goudland geld nie.

Ons as die algemene sinode-moderamen het nie ’n mandaat om te sê iets geld vir een sinode maar nie vir die ander nie.”

Hy sê daar is gemeentes in Goudland wat nie met hul sinode se besluit saamstem nie en dat Goudland nie die beleidsbesluite op gemeentes wat onder hulle val, kan afdwing nie.

Ek kan nie namens alle predikante praat nie, maar daar is nie sprake van liberale teologie in die leierskap van die NG Kerk nie.

Janse van Rensburg sê ook dat gerugte die ronde doen wat die leierskap van die NG Kerk van liberale teologie beskuldig.

“Ek kan nie namens alle predikante praat nie, maar daar is nie sprake van liberale teologie in die leierskap van die NG Kerk nie.

Ons is ernstig oor ons gereformeerde tradisie en dit is vir ons ’n lewende werklikheid.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.