Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Sendelinge uit see gered danksy ‘helde’

Twee sendelinge van Skotland wat Sondag in die moeilikheid beland het in die see by Lappiesbaai in Stilbaai in die Suid-Kaap, is gered danksy ’n “wonderwerk”.

Anne Tait, Dewald van der Merwe en Yolanda Oosthuizen Sondag ná die redding by Lappiesbaai in Stilbaai. Foto: Verskaf

Yolanda Oosthuizen (53) en Anne Tait (67) het by vriende in Stilbaai gekuier. Hulle het Sondag gaan swem en omstreeks 10:30 in ’n sleurstroom beland.

“Binne minute kon ons nie meer uitkom nie,” sê Oosthuizen.

Tait kon naderhand nie meer haar kop bo die water hou nie en Oosthuizen het om hulp geskree.

Mialize Wessels (12) het dié noodkreet gehoor en haar ma, Lize-Marié Wessels, daarop bedag gemaak. Lize-Marié was besig om hulp te soek toe Dewald van der Merwe (16) wat saam met hulle daar was op sy lyfplank gaan help het. Die Nasionale Seereddingsinstituut is ook gekontak.

“As dit nie vir Dewald was nie, sou Anne nie geleef het nie,” sê Oosthuizen. “Sy het agter aan die plank vasgehou terwyl hy geroei het. Sy het omtrent vier keer afgeval en hy moes terugdraai om haar weer te kry.”

Oosthuizen self is eers deur ’n man genader wat gesê het sy moet sy hand vat. Sy kon egter nie. Intussen het Johannes van Zyl met sy lyfplank tot by haar gekom. Hulle het albei aan die plank vasgehou totdat ’n reusegolf hulle onder die water gespoel het. Oosthuizen het nog aan die plank vasgehou en Van Zyl was ’n ent van daar.

’n Golf het ons gevat en ons het so te sê tot op die strand gevlieg.
Yolanda Oosthuizen

“Nog ’n branderplankryer het gekom en gesê ‘Tannie, klim op’. ’n Golf het ons gevat en ons het so te sê tot op die strand gevlieg,” sê Oosthuizen.

Volgens haar was Tait reeds op die strand. Willem Botha, by wie Oosthuizen kuier, se dogter, Anita Rautenbach, ’n dokter, was saam met haar kollega, dr. Karlien van Zyl, op die strand en het gehelp.

Tait is deur Botha na die Life Bayview-hospitaal in Mosselbaai geneem. Sy is steeds daar.

“Ek het al Stilbaai se helde op een dag ontmoet. Die seun was ’n engel op ’n lyfplank en hy en die ander is deur die Here gestuur. Dit is ’n wonderwerk en alle eer gaan aan die Here,” sê Oosthuizen.

Dewald se pa, Dawie van der Merwe, sê sy seun het kop gehou deur alles. Volgens Mialize se ma is sy ’n oplettende kind.

Meer oor:  Stilbaai  |  See  |  Verdrinking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.