Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Senekal Saterdag weer vreedsaam

Senekallers het Saterdag met dankbare harte dat eiendom nie gebrand of beskadig is nie, begin om hul bemorste strate skoon te maak, en daar was selfs diegene wat geglimlag het oor die goeie sake wat hul sakeondernemings gedoen het.

’n Foto van Bheki Cele, die polisieminister, en Julius Malema, EFF-leier, wat Vrydag langs mekaar in die hof gesit en gesels het vir die verskyning van die twee vermeende moordenaars van die plaasvoorman Brendin Horner van Paul Roux, het inwoners ook Saterdagoggend nog druk aan die gesels gehad toe dit op WhatsApp-groepe gedeel is.

Dolfie Potgieter, sakeman van ’n drukkery op Senekal, sê hy het heeltyd op die dak van sy onderneming gestaan om alles gade te slaan om seker te maak sy en ander sakeondernemings se geboue word nie aan die brand gesteek of met petrolbomme bestook nie.

In die stampvol hof op Senekal het die polisieminister, Bheki Cele, langs die EFF-leier, Julius Malema, gesit. Foto: Alet van der Walt

Honderde mense het op die dorp toegesak om protes aan te teken teen plaasmoorde of vir politieke munt.

“Ons as inwoners sê ‘dankie, Vader’ dit was net rommel wat die skare hier op ons dorp agtergelaat het nadat honderde of dalk meer as 1 000 mense van buite ons gister besoek het. Ons weet nie waar almal toilette gekry het nie, want die sakeondernemings was meestal gesluit uit vrees vir skade.”

Potgieter sê skade op die dorp is gering. “Een stopstraat se paal is afgebreek en ’n asblik van sement is uit sy staanplek geruk en op straat gegooi.”

Hy sê Donderdagaand was gastehuise in Senekal volbespreek, maar Vrydag het mense na hul huise teruggekeer en die dorp was Saterdagoggend doodstil.

“Ons wonder almal net waaroor Bheki Cele (minister van polisie) en Julius Malema (leier van die EFF) so hand om die blaas met mekaar in die hof gesit en gesels het.”

Potgieter sê enkele sakeondernemings wat wel oop was, soos die vulstasie, het goed sake gedoen.

“Ons dink net dit is onaanvaarbaar dat die EFF weer hier sy slagkrete van "Kill the Boer, Kill the Farmer" luidkeels kom skree het in dié moeilike omstandighede.

“Dit is haatspraak en daar moet nou dringend opgetree word. Dit kan nie toegelaat word nie.”

Hy sê baie boere het bo in die koppe gesit en bid. Daar was nie so baie boere op die dorp self met die hofverskyning nie. “Maar hulle het elders gesit en waghou.”

Só het Netwerk24 Vrydag oor die foto berig. Foto: Skermgreep

Abrie Goosen van die Shell Senekal-vulstasie sê hulle het geen probleme gehad nie en moes in ’n stadium net die mense beheer om seker te maak dat daar nie te veel mense gelyk in die winkel is nie.

“Dit was ’n groot klomp mense wat op die dorp toegesak het. Baie van hulle het ook hier kom brandstof vir voertuie ingooi. Daar was motors, verskeie minibustaxi’s en sowat drie groot busse.”

Mike Odendaal, voorsitter van AfriForum in Senekal en ook van die buurtwag, sê dit het soos ’n wegholtrein gevoel.

“Daar was sowat 1 000 mense op die dorp. Dit was vir seker baie minder as die vorige keer met die hofverskyning. ’n Boer wat gekom het van 'n plaas tussen Senekal en Paul Roux waar baie boere saamgetrek was, het vir my gesê een groep van die boere wou bid, die ander groep wou veg en 'n derde groep wou vleisbraai.”

Hy sê hy wil alle eer gee aan die polisie wat die situasie kalm gehou en goed hanteer het.

“Hulle het beslis geweet wat hulle doen. Vir Senekallers was dit ’n totale ervaring wat hulle andersins net altyd op TV sou gesien het.”

Meer oor:  Afriforum  |  Da  |  Eff  |  Brendin Horner-Moord  |  Hofverskyning  |  Helen Zille  |  Julius Malema  |  Brendin Horner  |  Senekal  |  Skoonmaak  |  Vullis  |  Betogings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.