Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Seun (10) ‘met lewendige ogies laat leemte’ in skool

Connor Willson het hardop gelag, altyd hand bygesit en maklik en vinnig jammer gesê waar dit nodig sou wees. Dié seun met sy lewendige ogies, het ’n pretensielose lewe gelei. 

Connor Willson (10)Foto: Facebook/Laerskool Kenmare Amptelik

Só sê Mari van der Walt oor die tienjarige seun wat Sondag dood is aan longontsteking, in 'n skriftelike huldeblyk. Van der Walt was Connor se registervoog aan die Laerskool Kenmare in Krugersdorp. Hy was in die gr. 4B-klas.

Connor is Vrydag dokter toe en het medisyne gekry. Hy het egter net sieker geword en is uiteindelik Saterdag in die hospitaal opgeneem, waar hy Sondagmiddag dood is.

Past. Callie Venter van die Connexo-gemeente het Woensdag gesê Connor het begin siek voel nadat hy Donderdag landloop geoefen het. Hy het vroeër ook gesê ’n virus het Connor se organe in so ’n mate aangeval dat een van sy longe platgeval het. "Sy liggaampie was so afgetakel van die virus en hy kon nie weerstand bied nie,” sê hy.

Hy het die dag van Connor se dood sy ouers in die hospitaal besoek en met die hospitaalpersoneel gepraat.

“Dit is nie varkgriep nie,” sê Venter oor aanvanklike vrese dat sy dood weens ’n uitbreking van die H1N1-griepvirus kan wees.

Luidens ’n brief wat die Laerskool Kenmare Maandag aan ouers gestuur het, het Connor se ma, Reinette, aan die skool bevestig dat hy aan longontsteking dood is. Die longontsteking het ’n tekort aan suurstof veroorsaak en dit het tot ’n ineenstorting van sy organe gelei.

Venter het Connor as ’n ongelooflike kind beskryf.

“Hy het elke Sondagoggend aan sy ma gekarring om hom by die kinderkerk te kry. Hy was lief vir praise and worship.

“Connor was ’n borrelende kind en nou is hy skielik dood. Dit is ’n verlies vir die kinderkerk. Dit is min dat jy ’n kind van daardie ouderdom kry wat só lief vir die Here en die kerk is.”

Volgens Van der Walt het Connor, of Skapie, soos sy maats hom genoem het, die manier gehad om ’n grappie te vertel wat sy maats laat skater van die lag.

“Waar hy deelgeneem het aan landloop, was hy altyd opbouend en ondersteunend teenoor sy medeatlete. Hy het die buitelewe en natuur geniet. Dit is ook waarom hy eendag ’n boer wou word,” sê Van der Walt.

“Connor, met sy breë glimlag, opregte emosies en blink, blou oë, laat ’n leemte van baie energie en dit gaan baie gemis word.”

Connor se begrafnisdiens word Donderdag om 10:00 in die Connexo-kerk in Krugersdorp gehou.

Sy familie was Dinsdag nog te emosioneel om met die media te praat.

Connor was sy ouers se enigste kind. Hulle is geskok en hanteer die dood van hul kind moeilik, sê Venter.

* Dié berig is aangepas nadat dit verskyn het. 'n Fout wat in die redigeerproses gemaak is, is reggestel. Die onderwysers het haar net uitgespreek oor die sonnige geaardheid van die seun en het niks gesê oor sy siekte nie. 

Netwerk24 stel graag die regte feite.

Meer oor:  Laerskool Kenmare  |  Connor Willson  |  Krugersdorp  |  Longontsteking  |  Medelye  |  Gesondheid  |  Sterfgeval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.