Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Seun (11) jongste sanger nog by Classics

Stefan se DNS bestaan uit musiek.

So sê sy pa, Dewald Bezuidenhout, nadat dié 11-jarige van Centurion ’n platekontrak by Coleske Artists losgeslaan het.

Ronel Brink, Bobby en Karlien van Jaarsveld se ma, het Stefan raakgesien toe hy verlede jaar by die Laerskool Wierdapark se Braaifees die verhoog met Bobby gedeel het. Coleske Artists het die jong sanger toe genader en sy eerste album behoort reeds in Mei al op die rak te wees.

“Ek het die Maandag met Arnold (Coleske)-hulle gesels en Stefan laat inkom vir ’n oudisie. Eers sou hulle net ’n enkelsnit met ’n video doen, maar toe het hulle besluit om eerder ’n volle album op te neem omdat hierdie kind letterlik enigiets kan sing!” vertel Brink.

Stefan sê hy was baie opgewonde toe Coleske Artists hom kontak en dat alles vir hom op die regte tyd gebeur.

“My ouers het ’n beter begrip as ek van hoe ’n groot geleentheid dit is. Hulle was in die wolke. Ek is net baie bevoorreg om te kan doen wat my passie is.

“Ek sing die hele dag, vandat ek skool toe ry totdat ek gaan slaap en ek kry een keer ’n week sanglesse by die beste stemafrigter, Carlé Weber van Studio Cha.”

Hy wil graag fokus op pop, R&B en kontemporêre musiek en neem ook nou klavier- en kitaarlesse.

“Ed Sheeran, Justin Bieber, Bruno Mars en Shawn Mendes se liedjies is my gunstelinge. Ek hou van hul klank en styl.”

Een van Stefan se musiekvideo’s wat Dewald sommer op sy selfoon geneem het, is al meer as ’n miljoen keer op Facebook gekyk.

Volgens sy pa is Coleske Artists die volmaakte plek vir Stefan wat verstaan dat hy sy akademie eerste moet stel.

“Hulle is opregte mense wat weet hoe om die beste uit ’n kunstenaar te kry. Hulle verstaan hy is nog op skool en akademie kom eerste.”

Brink beaam Stefan se akademie sal altyd eerste prioriteit wees.

Stefan Bezuidenhout

“Hy is egter ’n uitblinker by sy skool in absoluut alles. Sy skoolbaadjie is letterlik nie groot genoeg vir al sy balkies nie. Hy is die tipe kind wat ’n natuurlike uitblinker op alle gebiede is en sy ouers sorg dat daar ’n gesonde balans gehandhaaf word tussen sy kindwees, skool en musiekloopbaan.”

In Junie gaan Stefan die jongste sanger wees wat by Classics is Groot optree.

“Dis great om saam met al die mense na wie ek opkyk te sing. Ek sal altyd senuweeagtig wees, wat ’n goeie ding is. Maar sodra ek die eerste noot slaan, is al die senuwees weg.”

Hy sê sy liefde vir musiek het behoorlik vlamgevat toe hy in 2015 die nasionale wenner van die kykNET Nou!-kompetisie geword het en as die wenner in die afdeling vir junior sangers in die Solis vir Christus-kompetisie aangewys is.

Stefan sien homself oor vyf jaar as ’n leerling van die Hoërskool Eldoraigne wat baie skool gaan mis weens sy groot liefde: sang. Hy het groot drome vir sy sangloopbaan en wil graag eendag by Afrikaans is Groot optree.

“Ek wil ook mense se lewe verryk en aanraak met my musiek. Jy is nooit te jonk om te droom nie.”

As hy ’n duet saam met enige persoon in die wêreld kon sing, sou hy graag Bruno Mars se “When I was your man” saam met die tienmalige Grammy-wenner wou sing.

Volgens Brink kan sy aanhangers uitsien na ’n album met heelwat weergawes van Mars, Shawn Mendes, Justin Bieber, Adele en Keith Urban se liedjies.

“Aanhangers gaan nie glo wat hulle hoor nie. Ek bedoel dit. Die tone in sy stem is ongelooflik goed en soos reeds genoem kan hy enigiets sing. Dit gaan ’n magic album wees!”

Stefan se raad vir ander jong sangers is om ’n goeie afrigter te kry en na kritiek te luister.

“Sing moet vir jou lekker en ’n passie wees. As dit bedoel is vir jou, sal dit gebeur.”

Meer oor:  Classics Is Groot  |  Centurion
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.