Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Seun (14) in fratsongeluk met leer doodgeskok
Ricardo Bornman (14) van Mokopane is Saterdag op ’n hoewe buite die dorp doodgeskok.
Ricardo Bornman (14, links) en sy tweelingbroer, Leandro. Ricardo is in ’n fratsongeluk dood.
Ricardo Bornman (14) van Mokopane is Saterdag in ’n fratsongeluk dood.

’n Seun van Mokopane in Limpopo met groot toekomsdrome is Saterdag in ’n fratsongeluk op die gesin se hoewe doodgeskok.

Ricardo Bornman (14), ’n gr. 8-leerling aan die private skool Edu-Cor SA in Mokopane, is dood toe die leer wat hy langs ’n watertenk wou staanmaak, aan ’n oorhoofse kragkabel geraak en hom geskok het.

Sy ma, Liza Krüger, sê Ricardo se tweelingbroer, Leandro, word veral baie erg deur sy broer se skielike dood geraak. “Hy was Sondag en Maandag tjoepstil. Hulle was baie geheg aan mekaar.”

Die tweelingbroers is Liza se kinders uit ’n vorige verhouding.

Sy en haar man, Jaun Krüger, en die tweeling het sowat twee weke gelede uit die dorp na die hoewe verhuis.

Sy sê Ricardo het Krüger Saterdag omstreeks 12:00 op die hoewe gehelp om ’n 6 m hoë aluminiumleer teen ’n metaalstellasie staan te maak waarop daar ’n plastiekwatertenk is.

Krüger wou aan ’n elektriese skakelaar werk terwyl Ricardo die leer opgeslaan het.

“Ons vermoed hy het dalk naby ’n graswalletjie gestruikel en die leer het aan die elektriese kabel geraak,” sê Liza.

Krüger was sowat 50 m van Ricardo af toe hy ’n harde slag hoor. Die elektriese stroom het die gras naby die watertenk aan die brand laat slaan.

“Ek het net gehoor Jaun skree: ‘Liza, Liza!’ ”

Ricardo het bewusteloos op die gras gelê. Hy het brandwonde aan sy regtervoet opgedoen. Die leer het in die teenoorgestelde rigting op die gras geval.

Liza en Krüger het onmiddellik met hom na die Voortrekker-hospitaal in Mokopane, sowat 6 km van die hoewe af, gejaag.

Ricardo Bornman (14, links) en sy tweelingbroer, Leandro, van Mokopane.

“Liewe Jesus het hom kom haal op pad na die hospitaal toe. Ek is bly ek kon vir hom sê hoe lief ons vir hom is en dat ons hom nooit sal vergeet nie,” sê Liza.

Ricardo is met sy aankoms by die hospitaal dood verklaar.

Leandro, wat ook ’n gr. 8-leerling aan Edu-Cor SA is, was nie op die hoewe toe die ongeluk gebeur het nie. Hy moes ’n onderwyseres met ’n skoolaktiwiteit help.

Liza sê Ricardo was hul sonskynkind.

“Hy was altyd opgeruimd en vol grappies. Hy het altyd gesê hy gaan eendag baie ryk wees.”

Volgens haar het Ricardo akademies uitgeblink en was hy verlede jaar onderhoofseun van die Mokopane Primary School.

“Hy was lief vir sokker, het ’n skerp sin vir humor gehad en was ’n regte go-getter. Hy het ’n baie sterk persoonlikheid gehad en was lief daarvoor om met mense geselsies aan te knoop.”

Christine Pool, ’n onderwyseres van Ricardo, sê hy het Vrydagmiddag nog haar handsak in haar motor gaan sit. “Jy het gesê jy sien my Maandag. My hart is leeg. Niks sal ooit weer dieselfde wees sonder jou nie.”

Pool sê Ricardo het ’n hart van goud gehad.

Melanie du Toit, nog ’n onderwyseres van hom, sê hy was “die mooiste seun met die mooiste maniere”.

Ricardo se pa, Richard Bornman, wat in Pretoria woon, het hom Saterdag na Mokopane gehaas.

Liza sê die familie en Ricardo se vriende is geskok oor wat gebeur het. “Ons harte is so seer.”

Ricardo sal Vrydag om 14:00 in die begraafplaas in Hoogestraat, Mokopane, ter ruste gelê word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.