Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Seun (15) dood in sy koshuisbed aangetref

’n Leerling aan die Hoër Tegniese Skool (HTS) Drostdy in Worcester is Maandagoggend dood in sy bed in die koshuis aangetref.

Die oorsaak van Aidan Rossouw (15) se dood is nog nie bekend nie, het Louis Steijn, waarnemende hoof van die skool, aan Netwerk24 gesê.

Aidan, ’n leerling in gr. 10, het glo Sondagaand soos normaalweg gaan slaap. Sy kamermaats in die koshuis het hom die volgende oggend met opstaantyd dood in sy bed aangetref.

Ao. Joseph Swartbooi, polisiewoordvoerder, sê ’n lykskouing sal gehou word om die oorsaak van die seun se dood te bepaal. ’n Geregtelike doodsondersoek is intussen geopen vir verdere ondersoek.

Aidan Rossouw Foto: Facebook/Beleef HTS Drostdy

“Dit is ’n groot skok vir ons skool. Die onderwysers en leerlinge is baie hartseer en geskok op die oomblik, en dit is moeilik om in dié omstandighede met die skoolbedrywighede aan te gaan,” sê Steijn.

Unathi Booi, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), het namens die departement hul medelye teenoor Aidan se familie uitgespreek en gesê beradingsdienste word gebied.

Steijn sê beraders is steeds by die skool om leerlinge en onderwysers deur dié moeilike tyd te help.

Aidan is die tweede leerling van wie die skool moet afskeid neem in enkele maande. Luan Matthee (15) is in Mei dood toe hy sy stryd teen breinkanker verloor het.

In Desember is Arthur Underhay (60), die skool se hoof, aan Covid-19 dood.

Aidan het graag ’n glimlag op ander se gesigte gesit.

“Ons het ook ’n paar ouers in die afgelope tyd verloor. Dit is ’n baie traumatiese jaar vir ons. Ons is dankbaar vir die ondersteuning wat ons van die onderwysdepartement ontvang,” sê Steijn.

In ’n verklaring het die skool se onderwysers Aidan beskryf as ’n stil, goedgemanierde seun wat sy skoolwerk getrou gedoen het.

“Hy was meelewend in die klas met ’n mooi humorsin. Hy het baie oor die lewe geweet en kon sinvolle gesprekke met sy onderwysers en medeleerlinge voer,” lui die verklaring.

Aidan, oftewel Soutie, soos hy onder sy skoolmaats bekend was vanweë sy vaardigheid in Engels, word deur sy klasmaats beskryf as ’n positiewe persoon, wat die positiewe in enige moeilike situasie kon raaksien.

“Aidan het graag ’n glimlag op ander se gesigte gesit. Hy het geen kwaad by mense gesoek of teen hulle gehad nie en wou altyd net ’n handjie gee vir iemand wat sukkel.”

’n Gedenkdiens sal Vrydag by die skool vir Aidan gehou word.

Meer oor:  Worcester  |  Leerling  |  Dood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.