Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Seun (16) verloor been ná motorfiets-ongeluk

Moedersdag sal nooit weer dieselfde wees vir die Steenberg-gesin van Pretoria nie.

So sê Christa Steenberg oor die ongeluk van Sondag waarin haar seun, Steyn (16), sy linkerbeen verloor het.

“Ons was besig om haar Moedersdag-maaltyd voor te berei toe die foon lui,” sê Jacques, Steyn se pa.

Steyn Steenberg (16) en sy suster, Karla (14).Foto: Verskaf

Hul seun was omstreeks 15:30 in ’n ernstige motorfietsongeluk in die Boschkop-omgewing sowat een kilometer van die Steenbergs se huis.

Steyn, ’n gr. 10-leerling aan die Hoërskool Garsfontein, het alleen motorfiets gaan ry, vermoedelik beheer verloor en toe teen ’n staal-veiligheidsreling gebots.

’n Vrou het op die toneel stilgehou en sy pa gebel. Steyn se ouers was binne 20 minute op die toneel.

Toe hulle daar aankom, was sy been met ’n handdoek toegegooi. Jacques en Christa kon dus nie die skade aan hul seun se been dadelik sien nie.

Wat hulle wel kon sien, is dat hy ’n wond aan sy linkerboarmspier gehad het en sy linkergewrig was gebreek.

“Maar toe ons die handdoek oplig, het ons geskrik. Toe sy been die reëling tref, is dit basies heeltemal afgesny. Steyn was nog by sy volle bewussyn en het besef sy beserings is baie erg,” sê Jacques.

“Steyn het gesê: ‘Pappa, hoe ver is die ambulans? Ek het baie seer’. Hy het gesê hy gaan nooit weer motorfiets ry nie.”

Steyn Steenberg (16) in die waakeenheid van die Netcare Unitas-hospitaal in Centurion. Hy was op Moedersdag in ’n ernstige motorongeluk.Foto: Verskaf
Steyn Steenberg (16) en sy suster, Karla (14).Foto: Verskaf

Steyn ry al sowat vyf jaar motorfiets. Hy het sy valhelm en beskermingsklere aangehad ten tyde van die ongeluk.

Die motorfiets is bykans onbeskadig.

Steyn het op die toneel morfien vir die pyn gekry en is daarna per ambulans na die Netcare Unitas-hospitaal in Centurion geneem waar hy dadelik vir ’n skandering moes gaan.

’n Uur later is hy in die teater opgeneem weens geweldige bloedverlies.

“Ons het nie besef hy was kritiek weens die hoeveelheid bloed wat hy verloor het nie. Die narkotiseur het vir ons gesê as hy nie so jonk was nie, het hy dit nie gemaak nie,” sê Jacques.

Die skandering het getoon daar is nie bloedvloei in die onderbeen nie en sy linkerbeen moes noodgedwonge bo die knie geamputeer word.

“Hulle (die chirurge) moes ’n keuse maak: life over limb. Steyn was te onstabiel in daardie stadium en sou nie ’n operasie oorleef nie,” sê Jacques.

Hy het ook ’n fraktuur in sy bekken en bloeding in sy milt.

Steyn Steenberg (16) is ’n kranige swemmer van die Hoërskool Garsfontein in Pretoria. Foto: Verskaf

Steyn is kritiek, maar stabiel en sterk tans in die waakeenheid van die hospitaal aan.

“Hy is nog onder verdowing en weet nie hy het sy been verloor nie. Die hele wêreld weet, maar hy weet dit nie,” sê Jacques.

Jacques en Christa het al begin dink hoe hulle aan hul seun gaan vertel dat hy sy been verloor het.

“Dis maar moeilik. Een van ons kerk se geestelike beraders sal definitief bystaan wanneer die nuus aan hom gegee word. Tot ’n mate dink ek hy sal besef daar gaan fout wees, want hy het sy besering gesien,” sê Jacques.

Jacques en Christa Steenberg praat in die Netcare Unitas-hospitaal oor die ongeluk waarin hul seun was.Foto: Isabel Venter

“Ons is net dankbaar hy is nog hier. Die been sal ons met tyd hanteer.”

Steyn speel rugby vir die skool se o.16B-span (senter en vleuel) en is ’n swemmer. Hy speel ook graag gholf en is ’n boogskut.

“Dit sal belangrik wees om hom te laat besef daar is nog baie goed wat hy kan doen. Die oomblik wat hy gaan besef dat hy ander mense kan help met sy situasie, gaan dit hom motiveer,” sê Christa.

“Hy het heel toevallig ’n paar maande gelede gesê hy wil ná skool iets in die rigting van elektroniese prostese studeer en dit kombineer met meganiese ingenieurswese.”

Steyn se suster, Karla (14), is ook baie emosioneel ná die voorval en het nog nie teruggekeer skool toe nie.

Pierre Breytenbach, akteur en jare lange vriend van die Steenbergs, sê Steyn doen alles 100%.

“My sewejarige laaitie verafgod hom omdat hy so ’n sensitiewe mens is. Hy het ’n verskriklike vry gees.”

Die Steenberg-gesin bedank die NG gemeente Tygerpoort en die Hoërskool Garsfontein vir hul ondersteuning, en die publiek wat hulle op die ongelukstoneel bygestaan het.

Volg Steyn se vordering op die Facebook-blad Steyn se storie.

Jacques en Christa Steenberg is dankbaar hul seun, Steyn (16), leef nadat hy Sondag in ’n ernstige motorfietsongeluk was. Foto: Isabel Venter
Meer oor:  Steyn Steenberg  |  Amputasie  |  Motorfietsongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.