Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Seun (8) steek pitbull in rug om ma en boetie te red

“Ouma, ek kan nie saans slaap nie – al wat ek sien, is hoe die honde my mamma en boetie in stukkies byt.”

Dit is die woorde van die steeds getraumatiseerde agtjarige Albert Carel (AC) aan Magda Roets, skoonma van Mariëtte Oberholzer, nadat een van hul honde haar en haar ander seun, Martin, Sondag by hul huis in Elarduspark in Pretoria aangeval en gebyt het.

Mariëtte Oberholzer en haar seuntjie Martin wat Sondag deur een van hul honde aangeval en gebyt is. Foto: Verskaf

Roets sê Mariëtte het haar Sondag net ná 17:00 gebel. “Sy was histeries. Ek het dadelik besef iets ergs het gebeur,” sê Roets.

Volgens Roets het AC en sy vyfjarige boetie, Martin, buite gespeel toe die gesin se twee pitbulls, Tyson en Meisiekind, uit die bloute na mekaar begin hap het.

“Soos ek verstaan, het die reun en teef mekaar gebyt nadat ander honde in die buurt geblaf het. Albert, my seun, het sowat ’n week tevore met sy gesin uit Moreletapark na die nuwe huis getrek. Die honde is eintlik liefdevolle diere en ek dink die nuwe omgewing het hulle op hol gehad,” sê sy.

Toe die honde begin baklei, wou die seuntjies by die huis inhardloop. Die reun het op Martin afgestorm en hom herhaaldelik oor sy hele lyf gebyt.

Mariëtte Oberholzer saam met haar kinders, AC, Martin (regs) en Chanté. Foto: Verskaf

“Mariëtte het by die deur uitgehardloop en was net betyds om die hond te keer voordat hy Martin aan die keel kon beetkry. Sy is ook aangeval en lelik gebyt. AC was dapper en het ’n mes gaan haal en Tyson in die rug gesteek om die hond van sy ma en kleinboet af te kry,” sê Roets.

Mariëtte het met Martin na Albert se werkplek gejaag waar die nooddienste ontbied is. Hulle is van daar na die Kalafong-hospitaal in Atteridgeville geneem.

Mariëtte het bytplekke aan haar enkel, hak en hand, en Martin is aan sy bobene, lies en arms gebyt.

“Martin is steeds onder sterk verdowing terwyl Mariëtte vanoggend vroeg geopereer is. Dit gaan onder omstandighede goed met albei,” sê Roets.

“AC en sy vierjarige sussie, Chanté, sukkel net om te slaap ná wat gebeur het. Hulle is baie bang vir die honde. “Albert oorweeg dit nou om die honde eerder na die dierebeskermingsvereniging te neem sodat hulle aangeneem kan word,” sê Roets.

Roets vra dat die publiek die gesin met hul mediese en ander uitgawes bystaan. Sy kan by 065 874 3210 gekontak word.

Meer oor:  Pretoria  |  Pitbull  |  Hond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.