SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Algemeen
Seun (9) takel skurk wat kleinboet gryp

’n Negejarige seun van Middelburg in Mpumalanga se maats beskou hom as ’n held nadat hy sy tweejarige kleinboet teen ’n vermeende motorkaper beskerm het.

“Nathan het nie ’n sekonde gehuiwer om die skurk wat sy boetie uit die bakkie gepluk het, met sy vuiste toe te takel nie,” vertel ’n trotse Lizette van Niekerk, ma van Nathan en Raygan.

Lizette en die seuns was Woensdag omstreeks 18:30 op pad huis toe, toe ’n man skielik by ’n rooi verkeerslig in Walter Sisulu-straat op haar werkbakkie, ’n Ford Ranger, afpyl.

Mamma se tawwe tienie. Nathan saam met sy ma, Lizette van Niekerk. Foto: FACEBOOK

“Ek is maar altyd waaksaam en het dadelik die man gesien. Hy het die passasiersdeur oopgeruk en Raygan uit Nathan se arms gepluk. Ek was onder die verkeerde indruk dat al die bakkie se deure gesluit was,” sê Lizette, ’n voldoeningsbeampte by ’n vervoermaatskappy in Middelburg.

Nathan het soos ’n wafferse Tarzan uit die bakkie gespring en die man met sy vuiste begin slaan. Ná ’n paar houe het hy vir Raygan soos ’n warm patat in die pad gelos en doodluiters tussen die ander motors weggeloop.

Nathan het dadelik sy boetie opgetel en weer in die bakkie geklim.

“Die man se absolute arrogansie het my bloed laat kook en ek het uit die bakkie gespring en hom ingehardloop. Hy het net omgedraai en gesê dat hy my sal doodmaak. Dit is toe eers dat ek ’n yslike mes in sy regterhand sien. Ek het hom gelos en hy het weggeloop,” sê Lizette.

“Ek dink die man wou die bakkie kaap, maar iets het hom, op die ingewing van die oomblik, laat besluit om eerder vir Raygan te gryp,” sê sy.

’n Saak van ontvoering word deur die polisie ondersoek. Beeldmateriaal van die voorval, wat deur ’n kamera in Lizette se bakkie opgeneem is, sal gebruik word om die verdagte op te spoor.

Volgens Lizette het Raygan net ’n paar skrapies opgedoen. “Nathan is nou almal se held by die skool omdat hy sy kleinboet beskerm het. Ek het jare gelede uit belangstelling klasse in selfverdediging bygewoon en vir hom ’n paar truuks, wat ek van dié klasse kan onthou, geleer wat nou heel goed te pas gekom het.”

Oor die mislukte kaping meen Lizette dat dit skokkend is dat haar kinders van so vroeg al aan sulke geweld blootgestel word.

“Dit is egter die realiteit van die land waarin ons leef. Daar is maar altyd ’n vrees wat vlak in jou kom sit wanneer jy hoor iemand is weer die slagoffer van ’n verskriklike misdaad. Elkeen het maar hul eie ervaringe en maniere om dit te verwerk. Ek is net dankbaar dat niemand seergekry het nie,” sê Lizette.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.