Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Gr. 11-leerling wat raakrugby speel, stort ineen
Jayden Daniels, ’n gr. 11-leerling aan die Waveren High School in Tulbagh, is Dinsdagoggend dood nadat hy by die skool ineengestort het. Foto: Verskaf

Die oorsaak van die dood van ’n leerling in gr. 11 word ondersoek nadat hy Dinsdag ineengestort het toe hy raakrugby saam met sy skoolmaats gespeel het. Hy is later dood.

Die voorval het Dinsdagoggend tydens pouse by die Waveren High School in Tulbagh gebeur.

Hoewel die presiese omstandighede nog onbekend is, word beweer Jayden “Flex” Daniels (19) het ’n systap-beweging gedoen toe hy blykbaar oor sy eie voete gestruikel en op sy kop geval het.

Volgens Elnaid Carolus (17), Jayden se vriend wat saam gespeel het, het Jayden ná die val bewegingloos op die grond gelê.

“Ek het hom omgedraai en gesien sy oë is omgedop. Sy mond het oopgehang en hy het geluide gemaak soos iemand wat vinnig asemhaal,” sê Elnaid.

Die skoolmaats het Jayden gou tot by die skoolstoep geneem en het hom daarna saam met onderwysers na die kantoor gedra, voordat hy na ’n kliniek geneem is.

“Ek het later by my pa gehoor hy het dit nie gemaak nie. Dit voel nog steeds onwerklik,” sê Elnaid.

Bronagh Hammond, woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, het namens die departement meegevoel met Jayden se familie, vriende en die skoolgemeenskap uitgespreek.

Hammond sê die skool het onmiddellik gesondheidsdienste gekontak ná die voorval en die leerling is na ’n kliniek gehaas, maar is daar dood.

“Die oorsaak van sy dood is nog onbekend. Die uitslag van die lykskouing moet nog bevestig word.”

Beradingsdienste sal Woensdag aan die personeel en leerlinge by die skool beskikbaar wees.

Intussen sê Basil van der Merwe, ’n neef van Jayden, die familie probeer sterk wees en mekaar ondersteun in dié tyd, maar hulle sukkel om die nuus te verwerk.

Jayden Daniels (19) het graag tyd in die gimnasium deurgebring – vandaar sy bynaam, Flex. Foto: Verskaf

“Ons hoop eintlik iemand kan bel en sê Jayden leef nog, dat alles onwaar is,” sê Van der Merwe.

Jayden se ma, Magdelena Daniels, is sowat agt jaar gelede dood, waarna hy by Van der Merwe se ma, Rosetta, gewoon het.

“Hy was soos ’n klein boetie vir ons almal. Ons probeer nog sin maak van wat gebeur het, maar is onseker oor die presiese omstandighede,” sê Van der Merwe.

Volgens hom was rugby Jayden se passie en het hy graag tyd in die gimnasium deurgebring.

Ook Elnaid, wat die afgelope 13 jaar met Jayden vriende was, sê Jayden was passievol oor sport, maar dat rugby en sokker sy gunsteling was.

“Hy was ’n baie motiverende vriend, stil, maar altyd gaaf en vriendelik.”

Jayden wou ná skool vir ’n sportbestuurder swot en ook ’n professionele liggaamsbouer word.

Teen Dinsdagaand is verskeie huldeblyke en boodskappe van skok oor die dood van Jayden, wat as die stil seun met mooi maniere beskryf is, op sosiale media geplaas.

Tasha Smith het op Facebook geskryf: “Onse stil Jayden Flex Daniels klasmaat, julle. Ons het nie geweet vandag sal jou laaste (dag) wees nie, dat ons so gou moet totsiens sê nie. Ons is geskok, ons kan nie meer voel nie.

“Biddend dat jy by die deur terug sal inloop en vir ons sê ons het net gedroom. Jy is nie regtig weg nie, solank as wat ons glo.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.